Kô hys toe, na Pniël se boekfees

Alles wat met boeke en letterkunde verband hou, sal weer die hoofrol inneem wanneer die sewende jaarlikse Adam Small-fees later vandeesmaand in Pniël gehou word.


Alles wat met boeke en letterkunde verband hou, sal weer die hoofrol inneem wanneer die sewende jaarlikse Adam Small-fees later vandeesmaand in Pniël gehou word.

Feesgangers kan uitsien na ’n program propvol vermaak en aktiwiteite onder die Simonsberg, asook geleenthede om skouers te skuur met groot geeste in die Suid-Afrikaanse literêre wêreld. Op die program is ’n oorvloed praatjies, werksessies, musiek, lesings en gesprekke wat al die sintuie van boekliefhebbers – jonk en oud – sal prikkel.

Die fees, met die Pniël Erfenis- en Kultuurtrust (PEKT) in samewerking met die ATKV as gasheer, word van Donderdag 22 tot Sondag 25 Februarie hoofsaaklik in die tuin van die Pniël-museum aangebied. Van die sessies word ook by die Pniël Congregational-kerk gehou.

Vanjaar se tema is Kô hys toe, ’n verwerking van Small se gewilde boek, Kanna hy kô hystoe.

“Ons probeer die feestema’s verbind aan die werke van Adam Small, maar probeer deur vanjaar se tema ook Pniëlers wat buite Pniël woon, terug te trek na die dorp om hierdie uitsonderlike fees by te woon en te ondersteun – soos die Pniël Congregational-kerk se bazaar ondersteun word,” verduidelik die hooforganiseerder en PEKT-voorsitter, Janine Myburgh.

Die fees is in 2017 van stapel gestuur en is die geesteskind van Darryl David, ’n dosent aan die Universiteit van die Wes-Kaapland (UWK), wat in 2016 besef het dat geen Suid-Afrikaanse fees na die ontslape Small vernoem is nie.

Small is in 1936 in Wellington gebore en was alombekend as digter, dramaturg, akademikus, filosoof, rubriekskrywer, maatskaplike werker, aktivis en een van die stigters van die UWK. Hy is oor die jare heen met talle toekennings en eregrade vir sy werk vereer.

Small is in Junie 2016 in die ouderdom van 79 oorlede en die eerste fees in Pniël in Februarie 2017 het as viering vir sy 80ste verjaardag gedien.

“Darryl, ’n bekende feesorganiseerder, het deur Pniël gery en besef dis hier waar die Adam Small-fees moet wees – in hierdie rustige dorpie met sy ryke slawegeskiedenis en omring deur asemrowende berge,” sê Myburgh.

“Hy het die destydse PEKT-voorsitter, Matthew Cyster, met die idee genader en die PEKT-trustees het dinge in Pniël aan die gang gekry. Dit was die perfekte geskenk vir Small se 80ste verjaardag en die eerste fees is in Februarie 2017 aangebied.”

David, bekend vir boekfeeste soos die Boekbedonnerd-fees in Richmond, die land se enigste kinderboekfees en die Madibaland-wêreld- literêre fees, is ook die fees se programleier en sameroeper van die skrywers.

Hy het weer eens verseker dat vanjaar se feestafel met ’n heerlike verskeidenheid aanbiedings en aantreklikhede vir elke boekliefhebber gedek is.

Van die noemenswaardige sessies en sprekers waarna feesgangers kan uitsien, is dr. Diana Ferrus en die Mengelmoes-skrywers; Gaireyah Fredericks; Lifelong Learning; Daniël Hugo; Dennis Cruywagen; Kô laat ons sing – ATKV Suidoosterfees koorleier-werkswinkel; Dominique Botha; Jonathan Jansen; ATKV Crescendo se Cresendo Platformsessie: Klawerjas II; die Pniël-skrywersklub; dr. Harlan Cloete; en Pieter du Toit, skrywer van The Stellenbosch Mafia en The ANC Billionaires.

Vanjaar se Adam Small-gedenklesing word Saterdag 24 Februarie deur prof. Hein Willemse gelewer.

“Ons doel is om elke jaar ietsie nuuts by die fees te voeg. Vanjaar begin die fees eintlik met ’n skoleprogram op Donderdag 22 Februarie, wat aansluit by die PEKT- en ATKV-skole-skrywerswerksessies wat verlede jaar, onder leiding van Anzil Kulsen, aangebied is,” sê Myburgh.

“Die wenners word as deel van die fees aangekondig en die ATKV en VVA bied die middag ’n leeskonferensie vir onderwysers by die PC Petersen Primêre Skool in Kylemore aan.”

  • Toegang tot die fees is gratis en verversings sal te koop wees. ’n Beperkte aantal kaartjies, teen R50 elk, is vir die Klawejas II-vertoning te koop. Besoek www.adamsmallfees.co.za, of kontak die Pniël-museum per e-pos by pnielmuseum@gmail.com vir meer inligting of om die volledige feesprogram te verkry.
  • Volg ook die Pniël-museum se Facebook-blad vir die jongste verwikkelings.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.