Daar waar Mia Burger was, was Max.
Dit was tot verlede week toe Max ná ’n slangpik skielik dood is. In plaas daarvan dat Mia se 26ste verjaarsdag ’n blye dag was, moes sy haar Woensdag (27 Maart) na die veearts haas met Max nadat hy moeilik asemgehaal het en skaars sy kop kon lig.
“Sy het onmiddellik geweet daar is fout en het my geskakel om te kom help. Ons het vermoed dis bosluiskoors en het die veearts geskakel. Hy het gesê ons moet dadelik inkom,” vertel Mia se ma, Heloise.
Heloise en Mia is by die Stellenbosch-dierehospitaal meegedeel Max is waarskynlik deur ’n Kaapse kobra gepik. Heloise sê hulle het tot op die laaste gehoop vir ’n wonderwerk, maar ten spyte van die teengif wat die veearts die agtjarige hond toegedien het, was dit uiteindelik tevergeefs.
Jare nadat Mia vir Max in 2016 van ’n familie in Malmesbury aangeneem het, moes sy haar viervoetige vriend vir die laaste keer groet.
“Dit was ’n verskriklike Paasnaweek. ’n Mens raak so lief vir troeteldiere. Hulle is daar deur al die fases saam met jou en bied ’n ritme aan die lewe wat jou aan die gang hou,” meen Heloise.
Mia, ’n assistent-wynmaker, en Max het saam op ’n Stellenbosse wynlandgoed gewoon waar slange glo gereeld gewaar word. In die gedeelte van die landgoed waar die kothuise is, is daar verskeie troeteldiere, maar Heloise vermoed Max was ’n maklike teiken vir ’n slang. “Hy het glad nie geblaf nie en kon seker nie die slang afskrik nie. Dié dag was daar ’n geweldige geblaf van die ander honde, maar ons was gefokus op Max. Dit kan wees dat hulle só geraas het vir ’n slang.
“Dit is tog slang-seisoen. Die werkers op die landgoed is bobaas-slangvangers, en mense op die buurtgroepies deel daagliks inligting oor slange.”
Volgens Emile Rossouw van Stellenbosch Snake Removals is vanjaar se slangseisoen baie besig. Hy stel dit egter duidelik dat geen plaaslike slange met opset iemand sal aanval nie.
“Die slang is beslis banger vir jou as wat jy vir hom is. Daar is net drie slange wat algemeen in die Stellenbosch-gebied voorkom en dis die moeite werd om van hulle te leer,” maan Rossouw.
Hy sê dié drie giftige slange is die Kaapse kobra, pofadder en boomslang. “Indien jy vermoed jou troeteldier is deur ’n slang gebyt, moenie wag om hom by die veearts te kry nie. Wanneer troeteldiere simptome van ’n slangbyt begin wys, is dit gewoonlik reeds te laat,” verduidelik hy.
Rossouw vertel in die meeste gevalle word honde in die gesig of aan die nek gepik en met hul pels is dit moeilik om ’n wond op te spoor.
Daarom is sy raad om altyd kinders en troeteldiere so gou as moontlik weg van die slang te kry.
“ ’n Slang reageer op beweging; hulle sal jou nie lukraak aanval nie.”
Heloise sê haar dogter is verpletter deur Max se dood aangesien hy sedert haar hoërskooldae aan haar sy was. Só geheg was Mia aan die labrador/poolhond-kruising dat hy saam opgebly het wanneer sy vir haar Elsenberg-eksamens moes studeer en het ook saam gaan kamp en met vriende gekuier.
- Om met Rossouw in verbinding te tree oor enige slang-verwante sake, besoek Stellenbosch Snake Removals op Facebook of Instagram of bel hom by 082 629 1423.