Twee verdagtes staan tereg op drie aanklagte van poging tot moord nadat twee kinders en ‘n man die afgelope Sondag (7 Desember) in ‘n skietery in North End-straat, Cloetesville, gewond is.
Volgens die polisie is die twee verdagtes – onderskeidelik 27 en 31 jaar oud – danksy inligting wat deur hul informantnetwerk sowel as ooggetuies verskaf is, opgespoor.
Al twee verdagtes is sowat twee ure ná die skietery aangekeer.
Leah Jooste (4) was in die nek getref, sowel as ‘n sewejarige seun wat in sy arm geskiet is en ‘n man is sy been.
Theolita Jooste, Leah se ma, het gister (Woensdag) bevestig haar dogter is erg getraumatiseer deur die skietery. “Sy word [Woensdag] ontslaan, maar ek kan sien die trauma is erg. Wanneer sy slaap sal sy so ruk en ek kan sien dit vat aan haar,” vertel die ma, vanuit die Tygerberg-hospitaal waar Leah mediese behandeling ontvang het.
Jooste sê sy weet nie hoe sy werklik oor alles wat gebeur het voel nie, want drie dae later was sy steeds in ‘n mate van skok.
Die sewejarige seuntjie sal na verwagting vandag (Donderdag) ‘n operasie aan sy arm ondergaan. Eikestadnuus het na sy ma uitgereik, maar sy wou nie kommentaar lewer nie.
Sondag se skietery is slegs dae nadat ‘n tiener (14) in Sylviastraat in dieselfde buurt afgemaai is.
‘Kwessie van tyd voor nog sterftes’
Die bloedige paar dae volg nadat die Stellenbosh-munisipaliteit, die plaaslike polisiegroep en hul misdaadsvoorkomingsvennote ‘n gesamentlike vakansie-veiligheidsinisiatief van stapel gestuur het.
Lede van die munisipale-wetstoepassing-eenheid, saam met hul kollegas van die brandweerdienste, die plaaslike polisie en buurtwagte het hulle by die geleentheid daartoe verbind om die Stellenbosch-streek te help beveilig.
Volgens ‘n Cloetesviller, wat met Eikestadnuus op die voorwaarde van anoni- miteit gesels het, het bendelede lank reeds Cloetesville oorgeneem.
“Die moordenaars hou fees wanneer hulle iemand vermoor. Hoeveel moeders moet nog rou? Hoeveel kinders is getraumatiseer? Sommige van hierdie moordenaars se ouers staan nog saam met die kind. Bestaan ‘my kind is jou kind’ nie meer nie?” wil sy weet.
Dié ouer, wat soos talle Cloetesvillers self iemand aan bendegeweld verloor het, sê dit is net ‘n kwessie van tyd voor nog iemand sterf. “Die gemeenskap moet nou regtig saam opstaan teen die gemorste; so kan dit nie aangaan nie.”
‘n Plaaslike gemeenskap-aktivis wat in die buurt woon meen wat dit nog ernstiger maak, is dat dit tydens die 16 Dae van Aktivisme-veldtog plaasgevind het.
‘Situasie ruk handuit’
Die raadslid JC MacFarlane van die VF Plus het Sondag se voorval as ‘n “skending van elke beginsel van veiligheid en beskerming van kinders” genoem. MacFarlane voer aan ‘n gespesialiseerde teenbende-eenheid moet permanent in Cloetesville en omliggende hoërisiko-gebiede ontplooi word.
“Dit is onaanvaarbaar dat kinders nie eens in hul eie woonbuurt veilig kan speel nie. Hierdie probleem is niks nuut nie. Cloetesville en omliggende gemeenskappe leef al lank onder die juk van bendegeweld. Wat wel duidelik is, is dat die situasie nou handuit ruk en indien dit nie dringend en daadwerklik opgelos word nie, gaan onskuldige slagoffers sterf,” sê MacFarlene.
Die Stellenbosch-DA het op sy beurt ‘n versoekskrif van stapel gestuur in die hoop om die nasionale minister van polisie te dwing om die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens sowel as die Strafproseswet te wysig “om die lewering van polisiëringsdienste te verbeter”.
Volgens die DA belemmer dié wette tans vredebeamptes se magte om op te tree.
Intussen meen talle inwoners dat People Against Gangsterism and Drugs (Pagad) moet ingryp.





