Koffietafelboek vertel van die onreg wat inwoners van Van Ryneveldstraat ervaar het

Oud-Stellenbosser Freddy “Toff” Polman skryf en vertel die storie van die mense van Van Ryneveldstraat voordat hulle in 1968 deur die destydse Groepsgebiedewet uit die buurt verskuif is, in die koffietafelboek Van Ryneveldstraat en sy mense.Foto: Angelo Julies


’n Koffietafelboek oor die geskiedenis van Van Ryneveldstraat word Saterdag 17 Desember bekendgestel.

Die boek, getiteld Van Ryneveldstraat-reünie en sy mense, is deur die oud-Stellenbosser Freddy “Toff” Polman geskryf en vertel die verhaal van die mense van Van Ryneveldstraat voordat hulle in 1968 ingevolge die destydse Groepsgebiedewet uit die buurt verskuif is. Die straat is toe na Ryneveldstraat verander.

In die boek gee Polman herkenning aan talle sporthelde, sake-eienaars en inwoners wat ’n groot invloed op sy lewe gehad het.

Polman sê hy wou die geskiedenis en nalatenskap van die inwoners van Van Ryneveldstraat, in die gedeelte tussen Banhoekweg en Merrimanlaan, neerpen uit herinnering aan hulle en die destydse gemeenskap. “Hierdie boek is gedeeltelike herinneringe van die onreg wat die gemeenskap destyds ervaar het, soos toe die stadsraad ons straat se naam verander het sonder om ons te konsulteer,” vertel Polman.

Hy sê hy het die eerste Van Ryneveldstraat-reünie in 2013 gereël. “Die tweede was in 2017, en dit was net so groot sukses soos die eerste.”

Die boekbekendstelling sal ook dien as die derde reünie en word by die Hoërskool Ou Lückhoff gehou.

“Almal wat tussen 1920 en 1970 in Van Ryneveldstraat gewoon het, is welkom. Indien jou ouers oorlede is, verleen ek toestemming aan hul kinders ouer as 21 jaar om die reünie namens hul ouers by te woon – ongeag waar hulle gebore is – sodat die nalatenskap kan voortleef,” sê hy.

Die boekbekendstelling en reünie vind om 12:00 by die Hoërskool Ou Lückhoff plaas. Die boek kos R180. . Bel Freddy Polman by 072 884 4118 vir nog inligting. RSVP via WhatsApp na 066 349 5903 of 082 408 4401.

You need to be Logged In to leave a comment.