kykNET steek reeds die vure aan vir die volgende reeks van die gewilde Afrikaanse koswerklikheidsreeks Kokkedoor Vuur & Vlam en jy kan nou vir hierdie opwindende reis inskryf!
Soos in die eerste aflewering van Kokkedoor Vuur & Vlam in 2023 moet deelnemers vanjaar weer die koskenners Bertus Basson en Kobus Botha met hul braai-vaardighede beïndruk.
Die oorkoepelende Kokkedoor-tafel is vir die eerste keer in 2013 vir kykers gedek en oor die jare het familielede van die reeks, waaronder Koekedoor, Kokkedoortjie en Koekedoortjie geurryke vermaak en inspirasie aan oud en jonk verskaf.
Verlede jaar het hierdie koswerklikheidsreeks vir die eerste keer ’n braaivoorskoot aangetrek en Karen Els van Malmesbury en Gert Joubert van Jeffreysbaai is as die eerste wenspan van Kokkedoor Vuur & Vlam aangewys.
Nou is kykNET weer op soek na die perfekte spankombinasie van ’n onthoubraaier en ’n kinkelbraaier wat vurig daaroor voel om kos oor die kole gaar te maak.
Wat is die verskil tussen hierdie braaiers?
’n Onthoubraaier het nie formele sjef-opleiding en professionele ondervinding nie, maar dié se hart klop warm vir tradisionele kos. Hulle word gekies vanweë hul vernuf as ’n huiskok en hul kennis van onthoukos.
Daarenteen word Kinkelbraaiers gekies juis vir hul kwalifikasies en/of hul ondervinding in ’n erkende restaurant of professionele kombuis.
Die sluitingsdatum vir inskrywings is 15 Junie en die reeks sal van Januarie 2025 op kykNET uitgesaai word.
Skryf in deur www.kyknet.tv te besoek of stuur e-pos na navrae@kokkedoor.tv
Elke deelnemer se inskrywingsvideo, maksimum drie minute lank, moet die volgende inligting bevat:
- Stel jouself bekend;
- Vertel wie jy is;
- Waar kom jy vandaan;
- Skryf jy in as ’n onthoubraaier of ’n kinkelbraaier?
- Wat maak van jou ’n onthoubraaier of ’n kinkelbraaier?
- Hoekom wil jy deelneem?
Reëls:
Jy moet minstens 18 jaar oud wees op die dag van die oudisie. Enige Suid-Afrikaanse of Namibiese burger wat ’n geldige identiteitsdokument het, kan inskryf. Oudisies sal in Junie 2024 plaasvind. Spanne wat deurdring om deel te neem, moet van 18 Julie tot 14 Augustus in Struisbaai in die Suid-Kaap beskikbaar wees.