As jy ’n verskil in die lewe van kinders wil maak, terwyl jy tyd buite deurbring, is The Gratitude Run van Distance for Difference (D4D) net die geleentheid vir jou!
Dié geldinsamelingsgeleentheid vind Saterdag 2 November by ’n nuwe punt, Dornier Wyne in Stellenbosch, plaas en alle geld wat ingesamel word, gaan aan verskeie kinderorganisasies, insluitend Tzadokah Foster Home, Sylvia’s House, Esther van Zyl, Kingdom Kids – om net ’n paar te noem.
Of jy nou ’n drawwer is of daarvan hou om te stap – jy het drie opsies om van te kies. Stéphan Pieterse, die stigter van D4D, verduidelik: “Die 5-km-pretloop/stap is ideaal vir jonk en oud aangesien jy jou eie pas bepaal. Die 10 km- Trail Run bied een van die mees skilderagtige roetes in die Wes-Kaap. Die laaste opsie is ’n vier uur lange spanaflos-wedloop oor 3 km. Deelnemers skryf in as ’n span met ’n minstens een en maksimum vyf spanlede en hardloop rondtes van 3 km elk (3 x 4 x 5-spanaflos). Die uitdaging vir spanne is om soveel as moontlik 3-km-rondtes in die toegelate tydperk te voltooi.”
D4D is ’n geregistreerde organisasie sonder winsbejag wat die afgelope 19 jaar ’n beduidende bydrae tot die welstand van kinders, hetsy deur kinderorganisasies of individuele kinders in nood, lewer. “Ons gebruik sport om geld in te samel vir verspreiding aan verskeie organisasies wat by die versorging van kinders betrokke is. Eerstens samel ons geld in deur middel van individuele atlete wat borge vind vir elke kilometer wat hulle gedurende die jaar hardloop, ry of swem deur opleiding of deelname aan spesifieke geleenthede soos die Comrades-marathon, die Absa Cape Epic, Ironman en die Kaapstad-fietstoer,” sê Pieterse.
“Tweedens hou ons twee geldinsamelingsgeleenthede – die tweejaarlikse Gratitude Run en die THE500-24Hr-Cycling-and-Spinning-uitdaging. Ons het die afgelope 19 jaar meer as R11 miljoen ingesamel en versprei. Ons is inderdaad geseënd om ander te seën.”
Die dag beloof om groot pret te wees met die gasheer Colin Heckroodt, ’n regstreekse uitsending en musiek deur Radio Cape Town, pryse, gelukstrekkings, entoesiastiese atlete en borge wat ’n waardige saak ondersteun.
“Kom wys jou dankbaarheid vir jou gesondheid en jou vermoë om te hardloop en te stap. Vir diegene wat nie self wil deelneem nie, ondersteun jou ander helfte, familie, vriende of kollegas terwyl jy die son en die pragtige omgewing by Dornier Wyne geniet. Help ons om ’n beduidende verskil te maak,” voeg Pieterse by.
Deelnemers kan aanlyn via Quicket inskryf of via D4D se webwerf www.d4dsa.co.za.