“Liefde by die Dam” sal weer vir groot jolyt en groot feesvierings sorg wanneer dit Saterdag 12 November op Meerendal-wynplaas in Durbanville gehou word.
Die gewilde musiekfees is in April vanjaar vir die eerste keer weer sedert 2020 in Johannesburg en Kaapstad aangebied. Kaartjies vir albei konserte het so vinnig uitverkoop dat die organiseerders besluit het om dié dag-fees weer in die tweede helfte van die jaar aan te bied.
“Veral noudat al die Covid-19-regulasies daarmee heen is,” verduidelik Pierre Greeff van Die Heuwels Fantasties en ook een van die organiseerders. “Ons het met die vorige twee konserte vroeër vanjaar gesien dat mense ’n behoefte het om lekker te kuier en weer epiese konserte te ervaar. Die gevoel van samehorigheid was aansteeklik. Daarby is daar tans soveel great kunstenaars op ons land se verhoë, ons wil nog baie van ons bestes op die ‘Liefde’-verhoog kry.”
’n Tweede konsert is Sondag 14 Augustus by Emmarentia Dam in Johannesburg aangebied en is binne ’n paar dae ná die aankondiging uitverkoop. Kaapstad kry ook nou weer ’n beurt!
Kaartjies vir die volgende Liefde by die Dam-konsert is reeds beskikbaar. “Ons is baie bly om die fees te kan aanbied op die skaal wat dit moet wees,” het Greeff gesê. “‘Liefde’ is bekend daarvoor dat dit ’n groot dag is, met bekendes op ’n groot verhoog voor ’n groot skare. Ons kies kunstenaars wat ons wéét die verhoog behoorlik sal laat vlamvat. Die hele span werk hard daaraan om alles uit te haal vir ’n onvergeetlike partytjie!”
Die gewilde komediant en akteur Schalk Bezuidenhout is weer die seremoniemeester en is al ’n bekende op die “Liefde”-verhoog. Van die ander kunstenaars wat op die dag die verhoog sal betree, is Die Heuwels Fantasties, Francois van Coke, Robbie Wessels, Early B, Karen Zoid, Tarryn Lamb, Snotkop, Biggy, Will Linley, Neon Dreams, Justin Vega, Jack and June en Eloff.
Kaartjies kos R295 vir volwassenes en R75 vir kinders (drie tot 12 jaar). Meer inligting en kaartjies kan aanlyn by http://www.liefdebydiedam.co.za gekoop word.
. WEN! WEN! WEN! Vyf Eikestadnuus-lesers kan elk ’n stel van twee kaartjies vir Liefde by die dam wen. Om jou naam in die kompetisiehoed te gooi, moet jy slegs voor of op Donderdag 3 November inteken op ons weeklikse elektroniese nuusbrief by https://bit.ly/3LQx9dY. Wenners sal gebel word.