Neels Coetzee, Margit Meyer-Rödenbeck, Ilne Fourie en Marion Holm vermaak die gehoor in Laerskool Noord. Foto: Robert A. Hamblin


Maak reg vir ’n lekker lag wanneer die komedie Laerskool Noord Woensdag 7 Februarie by die Drostdy-teater in Stellenbosch op die verhoog is.

Laerskool Noord se leuse is “Kyk noord en stoot voort”. Die skoolhoof tree af. Drie onderwyseresse sit in die personeelkamer en beplan ’n verrassingspartytjie vir hom terwyl hulle wag vir die hoof om sy opvolger (via Zoom) aan te kondig.

Heimlik kou elkeen haar naels. Die vraag is: Kou elkeen naels omdat sy die volgende skoolhoof wil wees of omdat sy nie die volgende skoolhoof wil wees nie?

Die afgelope twee jaar moes almal leer om ter wille van oorlewing buite die boks te dink en dinge anders aan te pak. Dit word duidelik gesien in Laerskool Noord. Die belangrikste egter is dat Laerskool Noord vermaak. Dit laat die gehoor lag en lig hulle op uit die daaglikse swaarkry waaronder almal tans gebukkend gaan.

Die akteurs Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck, Ilne Fourie en Neels Coetzee sal die gehoor vermaak, met die regie deur Gideon Lombard en die teks deur Fourie. Dis is ’n lekkerlag-komedie en die perfekte manier om die nuwe jaar in te lui.

Laerskool Noord is om 20:15 by die teater in Alexanderstraat te sien. Kaartjies kos R220 elk, of R190 elk vir blokbesprekings van meer as 10. Bespreek jou plek aanlyn deur Computicket.

You need to be Logged In to leave a comment.