Die musikant Loki Rothman is een van die kunstenaars wat in November feesgangers by die Laailou-musiekfees gaan vermaak.Foto:


Die TopWineRoots Laailou-musiekfees bied Saterdag 19 November ’n opwindende nuwe musiek-ervaring by die Bergrivier-oord in Paarl aan.

Feesgangers kan lekker op hul “laailou” op die Bergrivier lê of in die gemak van ’n kampstoel na die vertonings kyk.

Van die land se voorste kunstenaars sal by die fees in aksie wees. Die program sluit in Karlien van Jaarsveld, Janie Bay, Tasché, Ampie, Corné Pretorius, sowel as Loki Rothman en Margot Rothman.

Vir die feesstigters, Corné Pretorius en Wynand de Villiers, was die resonansie van die naam belangrik, maar nog belangriker was dat die naam die regte toon daarstel en al die elemente van die fees omarm – die onderskeidende kristalhelder element is natuurlik dat jy die fees op jou “laailou” kan aanskou.

“Ons glo die line-up is uitsonderlik, maar vir ons is die setting van die fees en die vibe wat ons wil skep, die groot onderskeidingselemente van die fees. Die Bergrivier-oord is absoluut geskik vir die aanbieding van ’n baie unieke fees met twee sitplek-keuses, en byna die hele oord is onder ’n wonderlike skadubedekking van ou bome,” sê die organiseerders, wat beplan om dié nuwe fees jaarliks aan te bied.

Die verhoog by die fees word so opgestel sodat dit vir toeskouers in die rivier op hul “laailous” sowel as toeskouers op hul kampstoele in die kampeer-feesterrein sigbaar is. Die Bergrivier-oord het pragtige staanplek vir tente asook luukse staanplek vir woonwaens en genoeg kindervermaak, eetgoed en ’n groot biertent sal ook beskikbaar wees.

Kaartjies kos R260 aanlyn by https://itickets.co.za/events/467083 en kinders sewe jaar en jonger geniet gratis toegang. Die feesterrein is van 09:00 af oop. Die eerste vertoning begin om 12:00 en die laaste om 17:45.

. Besoek www.laailoufees. co.za vir al die feesbesonderhede en -program.

You need to be Logged In to leave a comment.