Paul Roos Gimnasium het Saterdag 28 Mei sy eerste Shop Talk Sessions aangebied. Alhoewel Filmit Festival se Shop Talk Sessions vir die 2022 Filmit-finaliste aangebied word, is dit ook oop vir hoërskoolleerders van die Wes-Kaap met ’n belangstelling in die maak van films.
Vanjaar se Filmit finaliste kan die sessies gratis bywoon, terwyl ander belangstellende leerders teen R100 per persoon ’n sessie kan bywoon.
Saterdag 28 Mei het bykans 30 leerders van die Paarl, Ceres, Worcester, Kylemore, Durbanville en Stellenbosch drie praatjies oor vervaardiging, produksiebestuur, hoe om jou film aan vervaardigers voor te stel, produksieontwerp (stel- en kostuumontwerp, grimeer- en haarstilering) bygewoon.
Die bedryfskenners Lynne-Anne Vosloo (uitvoerende hoof by Moonlighting Films), Uga Carlini (regisseur, vervaardiger en skrywer by Towerkop Creations), Christian Joubert (produksie-ontwerper), Marné van der Burgh (kostuumontwerper) en Louiza Calore (grimeerkunstenaar en haarstileerder) het die Shop Talk Sessions met passievolle kundigheid aangebied.
Die bywonende leerders het die geleentheid aangegryp om vrae aan die kenners te rig en so in kreatiewe gesprek met hulle te tree.
Die tweede reeks is Saterdag 4 Junie in Paul Roos Gimnasium se mediasentrum aangebied.
Die regisseur Nina Swart (bekend vir haar werk aan Temptation Island, Die Boekklub en Fynskrif) het haar kennis oor regie met die leerders gedeel.
Haar sessie is opgevolg met ’n praatjie oor die skryf en ontwikkeling van draaiboeke. Dit is aangebied deur René en Corné van Rooyen – wat bekend is vir hul uitstaande werk in die bekroonde fliek Vaselinetjie.
Die derde en vierde reeks Shop Talk Sessions vind Saterdag 11 en 18 Junie van 09:00 tot 15:00 plaas.
Onderwerpe soos kamera en film, redigering, animasie, die maak van musiekvideo’s, musiek en film, klankproduksie en klankeffekte (foley), en uiteindelik toneelspel vir die kamera – sal almal behandel word.
Jong volwassenes met ’n belangstelling in die maak van flieks wat die sessies wil bywoon kan kontak maak met Luna Paige by media@paulroos.co.za.
Alle Shop Talk Sessions word opgeneem en verfilm en sal beskikbaar gestel word op die Filmit Festival YouTube-kanaal. Die eerste sessie is reeds aanlyn beskikbaar.