Kom leer meer oor hoërskool

Die Hoërskool Stellenbosch (HSS) bied vanjaar op twee aande ’n ope dag aan – 18 én 19 Februarie.


Die Hoërskool Stellenbosch (HSS) bied vanjaar op twee aande ’n ope dag aan – 18 én 19 Februarie.

“Wat dié ope dae anders maak, is dat ons leerders tot ’n baie groot mate die inhoud én program vir die aande bepaal,” vertel Rinette Bruwer, ’n onderwyser by die skool.

“Leerders vertel vir leerders waarom HSS ernstig oorweeg moet word as ’n opsie.

“Die klem val vanjaar op verskeidenheid. Nie net gaan leerders kan uitvind waarom dié skool ‘klein genoeg is om persoonlik te wees, maar ook groot genoeg om ’n krag te wees’ nie, maar ons wil besoekers self die geleenthede laat sien en ervaar.”

In teenstelling met lang aanbiedings, beweeg leerders en ouers tussen verskillende interaktiewe besoekpunte om te sien, te hoor, te ervaar en sommer te proe ook.

Sportentoesiaste gaan kan loer na die skool se nuwe astro-hokkieveld, terwyl kultuurdiere sal kan hoor waarom HSS met een van die beste skoolkore in die land spog.

Daar is ook ’n paar verrassings wat wag, sê Bruwer. “ ’n Mens wil nie nou alles weggee nie, maar belangstellendes gaan onder meer ’n spesiale leerder, Ramkat, ontmoet.”

Volgens Bruwer weet min mense dat HSS oor ’n goed toegeruste koshuis beskik. Besoekers kan ook op die ope dag ’n draai hiér maak.

“Ons gaan ook leerders en ouers bekendstel aan ons nuwe laboratoriums. Dié vyf klaskamers is in 2018 voltooi en is waarskynlik van die mees moderne wetenskap­klaskamers in die Wes-Kaap,” aldus Bruwer.

“Die Hoërskool Stellenbosch bied ’n ander ervaring en ons nooi graag ouers en leerders om die vreugde van onderwys en ’n gelukkige kind vir vyf jaar te beleef,” sê die skoolhoof, mnr. Theo Pellissier.VDie Hoërskool Stellenbosch is geleë in Jannaschstraat en die ope dae begin om 17:30. Bel Eileen de Beer by 021 887 3082 vir nog inligting.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.