Die plaaslike aktrise Leatitia Solomons se bekende verhoogproduksie, Die Begrafnis, gaan vanjaar die verhoog van die Suidoosterfees betree.
Die Begrafnis het sy buiging in Maart 2019 by die Toyota US Woordfees gemaak en sou in 2020 by die Suidoosterfees opgevoer word, maar die fees is weens die Covid-19-pandemie afgelas.
Solomons sê sy is baie opgewonde dat Die Begrafnis vanjaar by die Suidoosterfees te sien sal wees. “Dit is ’n voorreg om steeds my werk vir gehore te kan voorhou. Twee jaar gelede het ons nie geweet wat die toekoms vir ons gaan inhou nie, maar ek is dankbaar ons kan nog werk,” voeg sy by.
Die eenmanstuk (musiekblyspel) van 60 minute is op die menslike verhoudings met begrafnisse gegrond.
“Ek het in ’n stadium baie sterftes in die familie gehad en besef dit is ’n onderwerp waaroor niemand graag wil praat nie, maar dit is tog iets waaroor ons moet praat. Die dood vra nie ouderdom nie; dit kan mense bymekaar bring of uitmekaardryf. Die Begrafnis is terselfdertyd komies en ernstig,”sê Solomons.
“Die Begrafnis is vir die hele familie. Ons gaan lekker saam sing, saam lag en saam huil.”
Die kortfliek-weergawe van Die Begrafnis het ook talle suksesse behaal en is al vir ’n Safta-prys benoem. Dit is ook vir nege pryse by die KykNet-Silwerskermfees benoem.
Van die benoemings is: Beste kortfliek, beste draaiboek, beste aktrise (vroulike byspeler), beste produksie-ontwerp, beste kinematografie, beste grimering en haarstilering en beste kostuumontwerp.
Die Begrafnis word Woensdag 27 April om 16:30 by die ZipZap Dome, agter die Kunstekaap opgevoer.
Kaartjies kos R125 by Computicket.