Songs of Praise is ’n Britse konsep waartydens verskillende gemeenskapskore onder leiding van ’n simfonie-orkes of ensemble bekende geestelike liedere saam met die publiek sing.
Die konsep bestaan onder leiding van die voormalige SABC-simfonieorkes dirigent, Richard Cock, sedert 1992 in Suid-Afrika. Dit word Sondag 27 Oktober om 16:00 in die Endler-saal in Stellenbosch aangebied.
Die RCME Winelands Choir en die Tygerberg-stadskoor sal tydens die konsert verskillende musiekstyle in verskillende tale vertolk: lofprysing en aanbidding; meditasie en gebed; Afrika- en alternatiewe musiek; feesviering en Koinonia. Gehoordeelname sal dan ook onder leiding van die kore plaasvind met Cock se 75ste verjaarsdag wat tydens die geleentheid gevier word.
’n Agt-stuk instrumentale ensemble sal die kore en die gehoor vergesel. Die ensemble bestaan uit: Mario Nell (orrel/klavier); Winand Grundling (klavier/orrel); Maryke Lintvelt (viool); Marelise Diener (tjello); Linda de Villiers (fluit); Reghardt Kühn (tromboon); Paul Loeb van Zuilenburg (trompet); en Schalk Wasserman (perkussie en kontrabas). Die solis vir die middag is die baie talentvolle sopraan, Erin Beck.
Cock beskou die konsert as baie spesiaal. “Ek was 12 jaar oud toe koormusiek my begin prikkel en ek in ’n koor begin sing het,” onthou hy. “My liefde vir koormusiek was altyd een van die dryfvere in my lewe en soos wat ek ouer word en 75 is, is dit steeds ’n groot lekkerte asook ’n inspirasie om my liefde vir koormusiek met soveel as moontlik mense te deel.”
Songs of Praise word ondersteun deur die Universiteit Stellenbosch en is deel van die Endlersaal-konsertreeks vir 2024.
- Kaartjies is beskibaar by Webtickets teen R230 per persoon. Rig alle navrae aan Ilse Schürmann by 082 851 7157.