Die lot van studente wat sukkel om hul universiteitsgeld te betaal is vanjaar een van die dringendste uitdagings vir tersiêre onderwys in Suid-Afrika.
Om hierdie kwessie aan te pak verskerp die Universiteit Stellenbosch (US) pogings om ’n einde aan studente se skuld te maak.
Die eerste geldinsamelingsaktiwiteit van die jaar sal Saterdag 3 Februarie deur die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid (CSJ) deur hul #Action4Inclusion Social Justice Walk aangebied word.
Oor die afgelope vyf jaar het dié staptog ’n belangrike brugbou-inisiatief geword wat diverse belanghebbendes byeenbring.
Prof. Thuli Madonsela, CSJ-direkteur, sal saam met lede van die US se studenteraad ’n vroegoggendstap van 12 km in die pragtige Banhoek-bewaararea in Kylemore onderneem.
Alle opbrengste van die staptog sal gebruik word om akademiese insluiting en die afbetaling van historiese skuld van verdienstelike studente te verseker.
#Action4Inclusion is in lyn met die US se visekanselier se #BridgeTheGap-inisiatief, wat ten doel het om die gaping rakende tersiêre akademiese finansiële ondersteuning te oorbrug, veral om die sogenaamde “vermiste middel”-studente te teiken met die doel om te verseker dat geen verdienstelike student agtergelaat word nie.
Een van die studente wat onlangs regstreeks by #Action4Inclusion se ondersteuning gebaat het, is Zwelethu Mtumtum, wat ’n gevorderde diploma in openbare verantwoordbaarheid aan die US voltooi het.
“Ek het in 2021 gesinsuitdagings ervaar en het akademies gesukkel, maar #Action4Inclusion het ’n reddingsboei geword,” sê Mtumtum.
“Die finansiële bystand het my registrasie vir die 2022- akademiese jaar vergemaklik, wat my in staat gestel het om te gradueer en #Action4Inclusion het my uitstaande skuld in 2023 gedelg, wat my in staat gestel het om my kwalifikasie te verwerf.”
Mtumtum is dankbaar vir die ondersteuning en het nou ’n BA Honneurs in openbare administrasie aan die US in die visier.
Volgende maand se Sosiale Geregtigheid-staptog sal ook as aktivering van Madonsela se Pelgrimstog van Hoop-staptog van Franschhoek na Kaap Agulhas – ’n afstand van 300 km – dien.
Madonsela het die eerste twee fases van die roete van Stellenbosch na Franschhoek in verlede Augustus voltooi.
Sy sê die Sosiale Geregtigheid-staptog is ’n geleentheid om vir die Pelgrimstog van Hoop te oefen, terwyl deelnemers ook idees oor die uitdagings van studenteskuld sal kan uitruil voor die akademiese jaar begin.
“Studente moet stabiele lewens hê om op ’n gelyke speelveld met hul eweknieë mee te ding. Die ondersteuning van deelnemers beteken die wêreld vir die studente wat geraak word en vir die klein span wat die projek gedryf het. Met jul ondersteuning en innoverende idees glo ons 2024 sal ’n deurbraakjaar wees,” sê Madonsela.
Deelnemers kom om 07:00 by Bethlehem-plaas in Rooistraat, Kylemore byeen en die begeleide staptog begin om 07:30 tot 11:00.
Stappers kan uitsien na ’n matige tot moeilike stap in ’n wonderlike omgewing. Dra ’n hoed en pak jou eie water en eetgoed in.
- Kaartjies kos R500 per persoon en kan aanlyn by Quicket gekoop. Kontak vir Thembalethu Seyisi by tseyisi@sun.ac.za of 072 785 3218 vir meer inligting.