Neil Sandilands, Schalk Joubert, Gian Groen en Abel Kraamsaal – vier unieke stemme in die Afrikaanse musieklandskap – klim saam op een verhoog om hul liefde vir Afrikaans en hul eie halfeeu lange reis te eerbiedig.

Die Vyftigers is ‘n musikale viering van die lewe, taal, stories en tyd. Dit is ‘n produksie wat eerlik, rou en reguit is – vol liriek, lag, melodie en menswees.

Die groep – ook Die Vyftigers – het tussen die appelboorde van Grabouw, by Gian Groen se 50ste verjaarsdagpartytjie, ontstaan. Die groep het tussen kitare, staalsnare en spontane samesyn die lig gesien – vier musikale vriende, almal besig om die 50-mylpaal te takseer, in dieselfde jaar dat Afrikaans 100 jaar oud word.

Dié kreatiewe toeval kon eenvoudig nie geïgnoreer word nie en met net een oproep na elk was almal aan boord.

So is die produksie Die Vyftigers ook gebore – ‘n unieke kruispunt tussen taal en tyd.

Elke kunstenaar bring sy eie storie, instrument en kleur na die verhoog en tussen hul vier loopbane is daar meer as 200 jaar se kreatiewe gravitas – elke noot en elke sin is deurdrenk met betekenis.

Maar dis nie net ‘n musiekvertoning nie – dis ‘n viering. Aan die hand van liedjies uit elk se repertoire, asook nuwe skeppings, wat spesifiek vir die produksie ontwikkel is, neem die kunstenaars gehore op ‘n reis deur persoonlike stories, taalgeskiedenis en tydlose klanke. Die verto- ning is ten volle in Afrikaans – ‘n danksegging aan die taal wat dit alles moontlik maak. Of jy nou ‘n aanhanger van Afrikaanse musiek is, die kunstenaars self, of eenvoudig op soek is na iets eg – diep en vermaaklik – is hierdie ‘n moet-sien!

“Wat kry jy as jy vier indrukwekkende persoonlikhede op een verhoog sit, wat elk ‘n instrument bespeel, ‘n ordentlike liriek kan pen en derms het wat brand? Sprankel ‘n aweregse Afrikaanse woordeskat, sprinkel ‘n titsel selfnegerende humorsin, ‘n spatsel witblits, ‘n slurpie Boere-Zen en ‘n draggie 50 jaar oue hardehout,” sê Sandilands.

“Daar het jy dit – die resep vir ‘n aand se eersteklas-vermaak: Die Vyftigers; amper soos Trompie en die Boksombende. “As ek dan nou Trompie is, en Gian is Rooies, Abel is Dawie, Briers Coetzee (ons klank-inginieur wat ook kan Cajon speel) is Blikkies, dan is Schalk mos Boesman die brak.”

Die Vyftigers is Vrydag 11 Julie by die Daisy Jones Bar buite Stellenbosch te sien. Die deure open om 17:00 en die vertoning begin om 20:00.

• Kaartjies, teen R280 elk, is aanlyn deur Quicket te koop.

You need to be Logged In to leave a comment.