Almal is MAL!
Dié komedie uit die pen van die skrywer, komediant en sosialemediasensasie Mel die Storieverteller is Sondag (26 November) om 15:00 op die planke van die Daisy Jones Bar in Stellenbosch.
Die stuk se debuut-vertoning by die Atterbury-teater in Pretoria het uitverkoop en was ’n reusesukses onder die 400 gehoorlede, wat omtrent van die lag geskater het.
Die vertoning het vinnig vlamgevat en nou toer Mel deur Suid-Afrika om broodnodige komiese verligting te saai.
Die komiese teks vertel van Mel se ervaring in Londen as ’n 21-jarige konserwatiewe meisie en hoe sy vinnig besef het almal in die wêreld is eintlik mal – party steek dit net baie beter weg as ander.
Mel deel humoristiese staaltjies oor die drie wesens met wie sy ’n kamer moes deel, hoekom sy matte bo teëls verkies en die vier vlakke tydens ’n huispartytjie.
Sy stel ook haar dronk alter ego, Melissa, aan ons voor.
Die grappies is skerp en vinnig op mekaar. Daar is ook altyd plek vir ’n bietjie interaksie en geselsies met die gehoor.
Geen onder 16’s word by die vertoning toegelaat nie.
Die deure open om 13:00 met Edo as die openingsvertoning.
Bespreek kaartjies aanlyn by www.meldiestorieverteller.co.za teen R150 per persoon.