Kommer oor Klapmuts-plakkers

’n Groeiende informele nedersetting buite Klapmuts, oorkant die stortingsterrein en skuins oorkant die polisiekantoor, is ’n groot kopseer vir die Stellenbosch-munisipaliteit sedert onwettige strukture daar opgerig is.


’n Groeiende informele nedersetting buite Klapmuts, oorkant die stortingsterrein en skuins oorkant die polisiekantoor, is ’n groot kopseer vir die Stellenbosch-munisipaliteit sedert onwettige strukture daar opgerig is.

Volgens JC Anthony, Klapmuts se wyksraadslid, het die grond oorspronklik aan die Drakenstein-munisipaliteit behoort, maar dit is in Februarie 2022 aan die Stellenbosch-munisipaliteit oorgegee, waar die onwettige besetters reeds tóé al ’n probleem was.

Volgens Anthony is die Stellenbosch-munisipaliteit tans besig met ’n regsproses om die onwettige besetters te verwyder, maar dié proses sal nog lank duur.

Anthony het verduidelik die mense wat op die grond bly, kom van Kraaifontein, en ’n groot rede vir hul trek van Kaapstad na Klapmuts is om plek te kry om te boer.

Klapmuts-inwoners en motoriste sal gereeld ’n aantal bokke en beeste gewaar wat langs die Ou Paarlpad wei, met ’n wagter aan hul sy.

Volgens Anthony behoort die vee aan van die onwettige besetters wat hul diere gedurende die dag op die grasveld langs die polisiekantoor laat wei.

Sowat 40 onwettige besetters is tans op die terrein, het Anthony telefonies gesê. Hy het verder verduidelik dat wetstoepassers en ander veiligheids-instellings gereeld hul verskyning maak om te verseker dat nie nog strukture opgerig word nie.

Volgens Anthony is die grond nie gesoneer vir behuising nie en gaan dit as deel van ’n toekomstige ontwikkeling naby Klapmutskop gebruik word.

Eikestadnuus het reeds Donderdag 2 November by die Stellenbosch-munisipaliteit se kommunikasie-afdeling oor die aangeleentheid navraag gedoen, maar teen druktyd is nog geen terugvoer ontvang nie.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.