Omgewingsgesondheidspraktisyns saam met Henry Prins (KWDM-munisipale bestuurder) en Pietie Willams (uitvoerende direkteur vir gemeenskapsontwikkeling en beplanningsdienste by KWDM) by die Wynland-distriksmunisipaliteit se gesondheidsdienste-uitstalling by die omgewingsgesondheid-konferensie.Foto:


Amptenare van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) was verlede week deel van ’n Wêreld-omgewingsgesondheids­dag-viering in Stellenbosch.

Die Suid-Afrikaanse omgewingsgesondheid-konferensie vir 2023 is Dinsdag 26 en Woensdag 27 September by die Dawn Mountain-landgoed, onder die tema “Global Environmental Public Health – standing up to protect everyone’s health each and every day” aangebied.

Die KWDM het ’n mandaat om omgewingsgesondheidsdienste deur sy munisipale gesondheidsdienste-afdeling te lewer. Die distriksmunisipaliteit en die departement van gesondheid, in samewerking met verskeie belanghebbendes, het by die wêreldgemeenskap aangesluit om Wêreld Omgewingsgesondheidsdag te herdenk ten einde bewustheid te verhoog oor hoe belangrik omgewingsgesondheid in die voorkoming en beheer van aansteeklike siektes is om gesonder gemeenskappe te verseker.

Die konferensie is deur omgewingsgesondheidspraktisyns (OGP’s), akademici, verwante organisasies en sakeondernemings op die gebied van omgewingsgesondheid oor Suid-Afrika heen bygewoon, en praktisyns het die geleentheid gehad om stil te staan en te besin. Afgevaardigdes het die status van omgewingsgesondheid in SA tydens die tweedaagse konferensie het in oënskou geneem, leemtes geïdentifiseer en gekyk na beste praktyke om gesonde omgewings te verseker. Voorleggings het kritieke onderwerpe en uitdagings op hierdie gebied behandel, soos klimaatsverandering, voedselveiligheid en -sekerheid, chemiese, water- en lugbesoedeling en swak behuising. Die weg is gebaan vir robuuste besprekings wat tot positiewe besluite gelei het.

Die OGP’s van die KWDM is voorsien van ’n sertifikaat van waardering vir hul heldhaftige lewering van besondere omgewingsgesondheidsdienste in reaksie op die Covid-19-pandemie.

In haar toespraak aan die afgevaardigdes het die uitvoerende burgemeester, dr. Elna von Schlicht, haar dankbaarheid en ondersteuning uitgespreek.

“Die KWDM bly onwrikbaar in ons verbintenis tot omgewingsgesondheid. Deur ons hele-samelewing-benadering prioritiseer ons die beskerming van ’n gesonde omgewing, en stel sodoende ons burgers in staat om ekonomies te groei.

“Ek sê dankie aan elke individu wat dag na dag betrokke is by die beskerming van ons gesondheid en moedig u aan om voort te gaan om te verseker dat ons ’n voorspoedige nalatenskap in ons hoek van die wêreld agterlaat,” het Von Schlicht gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.