Konsepsonering beperk huiseienaars se regte

Huiseienaars in die Stellenbosch munisipale gebied moet kennis neem dat die voorgestelde konsep-soneringskema (Stellenbosch Municipality Zoning Scheme By-Law Draft 10.3a, October 2016), die regte van huiseienaars aansienlik inkort.


Huiseienaars in die Stellenbosch munisipale gebied moet kennis neem dat die voorgestelde konsep-soneringskema (Stellenbosch Municipality Zoning Scheme By-Law Draft 10.3a, October 2016), die regte van huiseienaars aansienlik inkort.

Byvoorbeeld, as jy ’n huis besit op ’n erf groter as 750 vierkante meter, word die gemeenskaplike boulyn met jou bure (dit is nou op die sy- en agtergrense), verminder van 2,5 m na 1,0 m.

As jou bure tans, onder die huidige soneringskema, nader as 2,5 m aan jou grens wil bou, moet jy skriftelik in kennis gestel word. As julle nie ’n ooreenkoms kan bereik nie, kan jy beswaar maak. As die munisipaliteit jou beswaar verwerp, kan jy appelleer.

Maar onder die voorgestelde skema kan jou bure tot een meter van die grens bou (twee verdiepings hoog) sonder dat jy enige reg tot appèl het. Hulle hoef jou nie in kennis te stel nie. Hierdie verandering is vervat in afdeling 56 (1) van die voorgestelde skema onder die opskrif “Common boundary building lines” vir die “Conventional residential zone”.

By groepbehuising, waar die huise saam met die uitleg ontwerp word, is klein (of selfs geen) boulyne soms gewens. Maar by ’n konvensionele uitleg waar leë erwe verkoop word en die huise oor dekades gebou word, moet boulyne breër wees. Dit is veral belangrik waar erwe oos of wes front en ruimte aan die noordekant nodig is om sonlig te kan benut. Die publiek het tot 1 Maart 2017 tyd om beswaar te maak teen hierdie inbreuk op hul regte. Die kennisgewing en konsep-skema is te kry op: http://stellenbosch.gov.za/planning/zoning-schemes/notice .

Piet Claassen,

STELLENBOSCH

Geraldine Mettler, munisipale bestuurder antwoord: Neem asseblief kennis dat hierdie verordening slegs ’n voorgestelde konsep is en onderworpe is aan ’n openbare deelnameproses. Dié betrokke verordening is oop vir kommentaar tot 1 Maart 2017. Voor die openbare deelnameproses nie voltooi is nie, gaan die munisipaliteit nie kommentaar lewer nie. Die deelnameproses is geadverteer in verskeie publikasies, insluitend die Eikestadnuus en daar was ook ’n ope aand op 22 November 2016. Die openbare deelnameproses bestaan juis vir die publiek om hul insette en besware te lug. Die publiek word aangemoedig om aan die proses deel te neem en insette te lewer. Die konsepdokument is beskikbaar by alle biblioteke en die advertensiesentrum. Elektroniese weergawes is op die munisipaliteit se webblad beskikbaar by www.stellenbosch.gov.za.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.