Die Universiteit Stellenbosch (US) se konvokasie is nie onbekend vir drama en omstredenheid nie.
Verlede jaar was dié statutêre liggaam van die US omtrent in die nuus nadat sy uitvoerende komitee, nog voor ’n formele ondersoek, die kop van die US-rektor, prof. Wim de Villiers, geëis het oor hy glo sy nefie in die US se mediese fakulteit geplaas het.
Lede van die konvokasie was ongelukkig omdat die komitee glo daarin gefaal het om eers hul besluit met almal te bespreek. ’n Groep alumni, onder die vaandel van “progressiewe alumni”, het toe ’n mosie van wantroue in die bestuur, behalwe sy adjunk-president, dr. Rudi Buys, aangevra. Volgens dié groep was die komitee ’n kabaal van pro-Afrikaanses teen De Villiers se transformasieplan.
Die mosie het geslaag en Buys moes as interim die statutêre liggaam tot die volgende verkiesing bestuur.
Die US se registrateur, dr. Ronel Retief, wat komiteeverkiesings behartig, het Maandag 12 Februarie ’n uitnodiging aan alumni gestuur om hulself of ander te benoem vir die poste van president, visepresident, sekretaris en twee addisionele lede.
Benoemings het Woensdag 13 Maart gesluit, waarna die stemportaal verlede Woensdag (20 Maart) geopen het. Die stemproses sou aanvanklik tot Donderdag 4 April duur.
Die verkiesing het egter in chaos uitgeloop nadat die US vier van die kandidate – Bernard Pieters, Johan Smit, Isabelle de Taillefer en die DA-LP Jan de Villiers – verlede Vrydag gediskwalifiseer het.
Pieters het aan Eikestadnuus gesê hy is “teleurgesteld in die partydige wyse waarop [Retief] opgetree het”. Volgens hom het die US hulle nie net gediskwalifiseer nie, maar ook gesê geen appèlproses bestaan nie.
Volgens die US het Pieters en die ander drie die verkiesingsprosedure oortree, aangesien hulle elemente van die US se handelsmerk in hul bemarkingsmateriaal gebruik het.
Retief het in ’n brief gesê die ondersoek na die klagte ontvang, het bevind dat die gediskwalifiseerde kandidate wel die prosedure oortree het.
“Dit is duidelik uit die gerapporteerde veldtogmateriaal dat die plakkaatontwerp op die US se handelsmerk gebaseer is. Daar is gevind dat die ontwerpelemente en oorkoepelende estetika die veldtogmateriaal nou met die US se handelsmerk assosieer,” het Retief gesê.
Retief het terselfdertyd gesê die vier oorblywende kandidate – Lwazi Phakade as visepresident, Nomzamo Ntombela as sekretaris, Taryn Cohn en Simphiwe Malaza – outomaties tot die vakante poste verkies is.
Kallie Kriel, AfriForum-hoof, het kapsie teen die US se besluit gemaak en op die sosialemediaplatform X gesê hy sal die US voor die hoogste hof daag.
“AfriForum se regspan gaan die vier pro-Afrikaanse kandidate wat onregmatig deur die US gediskwalifiseer is, bystaan en die saak in die hoogste hof beveg.”
Volgens Kriel “hang die US se onderrok uit” omdat die ander kandidate glo ook elemente van die US-handelsmerk gebruik het.
“Die US se ideologiese onderrok hang duidelik uit deurdat die ander kandidate wat die US se ideologie dien, wel toegelaat word om die maroen patroon te gebruik, maar die pro-Afrikaanse kandidate word daarvoor gestraf,” het Kriel gesê.
Intussen het die DA-LP dr. Leon Schreiber in ’n verklaring gesê die diskwalifisering van die kandidate is “kommerwekkend.” Hy het die proses bevraagteken, juis omdat die kandidate Afrikaanssprekend is.
“Dit is opvallend dat al vier betrokke kandidate hulself uitgespreek het ten gunste van Afrikaanse moedertaalonderrig aan die US,” het hy gesê.
Die US se nuutverkose konvokasie-president, dr. Theo de Jager, wat onbestrede tot die pos verkies is, het aan Netwerk24 gesê die alumni het nie geduld vir “uitgerekte hofsake” nie. Hy het voorgestel dat die proses oorgedoen moet word en dat hy homself weer verkiesbaar sal stel.
AfriForum het die US tot gister (Woensdag 27 Maart) kans gegee om op sy prokureursbrief te antwoord. Kriel het intussen aan Eikestadnuus gesê hy verstaan De Jager se mening, maar die “howe moet intree weens die US se ondemokratiese manipulasie van die proses”.
Martin Viljoen, ‘n woordvoerder van die US, het in ‘n verklaring gesê: ”Die kantoor van die registrateur het die betrokke prokureursbrief ontvang en sal uitstel tot Woensdag 27 Maart versoek om te reageer. Daar is geen sprake van ‘gunstelinge van die administrasie van die universiteit in hierdie verband nie. Die kantoor van die registrateur is die onafhanklike verkiesingskantoor wat die verkiesing bestuur en die reëls sonder vrees of guns toepas.”
Die nuutverkose sekretaris, Ntombela, is ook vir kommentaar genader, maar wou nie vrae van Eikestadnuus beantwoord nie.
* Artikel aangepas.