Om by die gala-koorfees van die Tygerberg-eisteddfod deel te neem, is ’n groot prestasie.
Slegs die beste kore van dié kunswedstryd word genooi om by dié spesiale geleentheid deel te neem.
Die Bloemhof Accelerando-koor het saam met vier ander hoërskoolkore Vrydag 7 September die geleentheid gehad om in ’n stampvol Endlersaal op te tree waar hulle ’n gemiddelde punt van 93% toegeken is.
Dit is slegs 0,5% minder as die wenkoor – Hoërskool Stellenberg se meisieskoor.
“Vir my het dit gevoel asof elke koorlid uit die diepte van haar wese gesing het en haar bes gedoen het om met die essensie van die lied te konnekteer,” sê Marijke de Villiers-Roos, Accelerando se koorleier.
“Sommige was so ontroer toe hulle van die verhoog afstap . . . byna oorweldigend vir my as dirigent.”
Die ander hoërskole wat deelgeneem het, was Hoërskool Outeniqua, Hoërskool Bellville en Hoërskool Stellenberg se seunskoor.