Oppas aan wie jy stoute boodskappe stuur, want jou kiekies kan dalk net op sosiale media verskyn.
Dit was die dreigement wat verskeie plaaslike inwoners ontvang het nadat hulle naakfoto’s deur middel van WhatsApp met iemand uitgeruil het. Die Stellenbosch-polisie ondersoek voorvalle van afpersing nadat klaers vertel het hoe die kwaaddoeners gedreig het om hul naakfoto’s aanlyn te versprei.
Kapt. Nathalie Martin, ’n woordvoerder vir die Stellenbosch-polisie, bevestig ’n klaer het Donderdag 22 Augustus ’n boodskap van ene Christel ontvang. Christel het gedreig indien die klaer nie R200 betaal nie, sal naakfoto’s van hom versprei word.
In ’n afsonderlike voorval het ’n klaer sy stoute foto’s vir iemand met die naam Charmaine gestuur nadat dié twee op ’n afspraak-toepassing ontmoet het. Die twee het hul gesprek na WhatsApp verskuif, waar die gesprek blykbaar witwarm geraak het. Die modus operandi was dieselfde en Charmaine het R5 000 geëis – of sy stuur die naakfoto’s na die klaer se familie. Hoewel Charmaine aangehou het met dreigemente, het die klaer geweier om te betaal en hy is liewer na die polisiekantoor.
Saterdag 24 Augustus het nog ’n man om 21:00 in dieselfde strik getrap. Nadat hy naakfoto’s na iemand op WhatsApp gestuur het, het soortgelyke dreigemente gekom. ’n Bedrag van R300 later het die kwaaddoeners nog meer geld geëis. Die geld is aan die selfoonnommer 082 500 0723 gestuur. Volgens die afperser was die geld te min en hulle het ’n tweede “paaiement” gesoek. Dit was eers nadat ’n verdere R4 100 oorbetaal is wat die kwaaddoener beloof het hy het die klaer se naakfoto’s uitgewis.
’n Vinnige soektog op die toepassing Truecaller het bevind die nommer behoort glo aan ene Lucy Smith. Daar is nog mense wat op dié toepassing kla dat “Lucy” hulle op dieselfde manier probeer afpers het.
“Hulle het gedreig om eksplisiete foto’s uit te lek wat ek privaat aan hulle gestuur het, in vertroue (ek vermoed ook die eksplisiete foto’s wat hulle ook vir my gestuur het, was nie regtig hulle nie), tensy ek hulle baie geld betaal,” is Ethan S. se kommentaar op die toepassing.
Volgens KnowBe4 AFRICA, ’n organisasie wat opleiding oor sekuriteitsbewusmaking en uitvissing (phishing) bied, is afpersing, veral sextortion, aan die toeneem. Anna Collard van die organisasie sê veral tieners en jongmense word met hierdie slenter geteiken.
Benewens die finansiële gevolge van dié soort afpersing is daar ook erge sielkundige en emosionele gevolge.
“Hierdie georganiseerde-misdaad-groepe maak gewoonlik asof hulle jong vroue is deur vals rekeninge op Instagram te gebruik en beweeg dan na ander klets-platforms om slagoffers te mislei om eksplisiete foto’s of video’s van hulself te deel.
“Sodra die swendelaars ’n foto ontvang het, sal hulle die slagoffer dadelik afpers en gewoonlik ’n paar duisend rand eis,” verduidelik Collard.
Martin waarsku dat afpersing met naakfoto’s ’n ernstige misdaad is. Sy raai mense aan om liewer nie foto’s aan te stuur nie, al is dit aan ’n vertroude persoon.
“Sodra dit gedeel is, verloor jy beheer oor waar daardie beelde kan eindig. Wees versigtig oor wie jy aanlyn as vriend of volgeling byvoeg.
“Wees versigtig vir aanlyn interaksies; wees versigtig om aanlyn met vreemdelinge te skakel, veral as hulle vir persoonlike inligting of intieme inhoud vra.
As iemand wat jy nie ken nie, vir eksplisiete foto’s vra, is dit ’n rooi vlag – meld dit aan.
“As iemand dreig om eksplisiete foto’s vry te stel tensy jy aan hul eise voldoen, moenie betrokke raak of toegee nie,” sê Martin.
“Enigiemand wat afgepers word, moet skermgrepe van die dreigende boodskappe neem wat die gebruikersname, tydstempels en enige eise wat gemaak word, insluit. Hierdie bewyse kan nuttig wees om die voorval te ondersoek.
“Kontak jou plaaslike polisiekantoor of ’n vertroude individu as jy afgepers word. Daar is ook ondersteunende organisasies wat raad kan gee.”
- Die Stellenbosch-polisie ondersoek al drie gevalle wat aangemeld is.