Kookolie kos nou 69% meer as ’n jaar gelede en koekmeel 24% meer.
’n Vyfliter-bottel kookolie kos nou R228,94 – R93,20 meer as ’n jaar gelede – en 10 kg meel kos nou R115,90 – R22,21 meer as ’n jaar gelede.
’n Bruinbrood kos nou gemiddeld R13,83. Dit is R1,84 oftewel 15% meer as ’n jaar gelede. ’n Witbrood kos nou gemiddeld R15,14 – R1,83 oftewel 14% meer as ’n jaar gelede.
Dit is volgens die Pietermaritzburg Economic Justice and Dignity Group (PMBEJD) se indeks van huishoudelike bekostigbaarheid vir Junie van die basiese kossoorte waarvan die pryse die afgelope jaar skerp gestyg het.
Kos vir gesinne wat net die mees basiese produkte koop, is nou gemiddeld 13,6% duurder as ’n jaar gelede. Dis ’n enorme R560,57 per maand meer wat dié gesinne êrens moet vind – of hulle gaan slaap meer gereeld saans honger.
Die jaarlikse kosprysstyging van 13,6% is die grootste vandat die PMBEJD se indeks landwyd sedert September 2020 saamgestel word, wat beteken ’n jaarlikse inflasiekoers is slegs van September 2021 af beskikbaar. Dit het sedertdien tussen 6,3% en 11,4% geskommel.
Die kosprysinflasie wat arm gesinne beleef, is aansienlik hoër as die landwye gemiddelde vir alle inkomstegroepe. Volgens Statistieke Suid-Afrika was kosprysinflasie in Mei 7,6%, teenoor die PMBEJD se 11,4%. Die SSA se Junie-syfers is nog nie bekend nie.
Waar die twee indekse wel ooreenstem, is dat kosprysinflasie aan die styg is – en sommer skerp ook. In Januarie was die SSA se syfer 5,7% en PMBEJD s’n 8,6%.
Die styging in die inflasiekoers van Januarie tot Mei is 33% vir albei bronne.
Dit kos nou gemiddeld R4 688,81 om vir ’n uitgebreide huishouding van sewe mense genoeg basiese, maar voedsame kos voor te sit. Huishoudings wat hul sente omdraai, koop 17 uit die groter mandjie van 44 produkte eerste. Dit sluit meel, olie, hoender, rys en aartappels in, maar sluit baie vrugte en groente, suiwelprodukte en beesvleis uit.
Dié kleiner verskeidenheid produkte het die afgelope jaar selfs vinniger duurder geword, teen 14,3%. Dit kos nou R2 560,31 vir sewe mense – oftewel R320,17 meer as in Junie 2021.
Die PMBEJD-indeks word saamgestel uit die pryse wat mense in arm woonbuurte van Johannesburg, Kaapstad, Pietermaritzburg, Durban en Springbok bestee om kos vir die gesin te koop.
Die skerp stygings in die prys van kookolie en meel word toegeskryf aan die uitwerking van die oorlog in Oekraïne, een van die kosmandjies van die wêreld. . Benewens dat kos duurder word, moet Suid-Afrikaners ook aansienlik meer opdok vir basiese toiletware en huishoudelike skoonmaakmiddels.
’n Mandjie produkte, wat toiletpapier, waspoeier, skottelgoedseep, badseep en deodorant insluit, is nou 15,9% duurder as ’n jaar gelede.
’n Voorraad vir ’n gesin vir ’n maand kos nou R839,75, oftewel R115,33 meer as in Junie 2021.
Die skerpste prysstyging is vir groen wasgoedseep. Dis ’n ongehoorde 14% duurder as in Mei en 50% duurder as ’n jaar gelede. ’n Koekie seep van 500 g kos nou gemiddeld R12,51, wat R4,17 meer is as ’n jaar gelede.
Waspoeier kos 22% meer as ’n jaar gelede, met 3 kg wat R79,44 kos, R14,57 meer as ’n jaar gelede.
’n Buisie tandepasta (100 mF) kos nou gemiddeld R17,78, wat R2,92 oftewel 20% meer is as ’n jaar gelede.