Warren de Kock van Stellenbosch en Eagan Matroos van Eersterivier, twee spelers van die Van der Stel-Evergreens-rugbyklub, wil graag ’n verskil in die lewe van juniors van dié klub maak.
Matroos, ’n onderwyser aan die Laerskool Palmpark in Eersterivier, en De Kock, ’n onderwys-assistent by die Katolieke skool in Koelenhof, het Saterdag (8 Junie) ná hul wedstryd teen Langa twee kospakkies aan twee o.10-spelers oorhandig.
De Kock sê die klub deel al sedert 2019 kospakkies uit, veral gedurende die Covid-19-pandemie toe baie van die spelers hul werk verloor en dit maar tuis swaar gegaan het.
Hy is die afgelope drie jaar lid van die klub.
“Een van die afrigters het met die inisiatief begin en gevra dat spelers elkeen Dinsdae en Donderdae ’n blikkie of pasta na die oefenveld bring, maar ek het verkies om ook ’n geldelike bydrae te gee. Ander klublede soos Elsedan Herbert van Raithby en Jason le Roux van Stellenbosch het ook bydraes gegee en ons het die geld en blikkieskos oorhandig sodat spelers kos kon koop. Die kospakkies is Saterdag ná die o.20-spanne se wedstryd oorhandig,” sê De Kock.
Matroos voeg by: “Ek het vanjaar by die klub aangesluit nadat ek deur die voorsitter genader is om te kom speel, maar die klub se sukses die afgelope drie jaar het my besluit makliker gemaak om my gewig by die klub in te gooi. Die klub het gewys jy kan groot hoogtes bereik as jy hard werk en toegewyd is, en ek wou graag deel wees van die klub. Een van VDE se juniors is ’n leerder by die skool en hy was baie spoggerig oor die klub se sukses, wat ook bygedra het tot my besluit om by VDE aan te sluit.”
Hy het die eerste keer van die kospakkies by die klub tydens ’n spanoefening uitgevind en ook gesien dat een van die afrigters huiskos aan van die spelers uitdeel.
“Die meeste spelers kom direk van hul werk af na die oefening en toe ek sien hulle ontvang huiskos het ek gedink dis ’n uitsonderlike idee, want daar word na ander behoeftes van die spelers ook omgesien. En die feit dat kospakkies aan die juniors uitgedeel word, is ook ’n diens wat aan die toekoms van die klub gelewer word. Dis juis die juniors wat die klub in die toekoms na groter hoogtes kan neem en ek wou op my manier ook ’n bydrae lewer. Boonop het ek ook nog nie my belofte nagekom om een van ons leerders se wedstryde te gaan bywoon nie, en het ek besluit om ’n bydrae tot die kospakkies te maak,” sê Matroos.
Matroos het voorheen vir die rugbyklubs Tygerberg en Kuilsrivier gespeel voordat hy by VDE aangesluit het.
Sy droom is om, buiten om vir die klub te speel, ook ’n vennoot by die klub te wees om ’n voedingskema vir al die gesinne en kinders in die Stellenbosch-omgewing te begin.
“Ek wil ook help om die jong talent by die klub te help ontwikkel en benewens die kos ook die juniors van klere en ander noodsaaklikhede te voorsien. My visie by die klub vir 2024 is om ’n kultuur verby rugby te skep, waar families bymekaarkom en ’n gemeenskapsatmosfeer skep.
“Die atmosfeer sal ’n groot invloed op die spel op die veld hê, want ons as spelers beskou ons familie en vriende wat ons ondersteun as ons bron van energie.
“My ander doel by die klub is om te help dat VDE in die top-ses speel en toe te sien dat ons die nodige uitslae kry, maar vir nou vat ons dit maar wedstryd vir wedstryd en bou baksteen vir baksteen,” sê Matroos.
Wanneer hy nie rugby speel nie, geniet hy afrigting, staptogte en oefen in die gimnasium.
Die o.20-span het ook ’n borgskap van rugbystewels van die Stellenbosch-tak van De Jagers ontvang, asook rugsakke en gholf T-hemde van die Lona Group en Sealand Gear.