– Volg van bladsy 1.
Van Rooi sê die US bly verbind tot vennootskappe met plaaslike skole op baie vlakke. “Ons doen dit spesifiek om ons skole en gemeenskappe positief te beïnvloed. Dit is wonderlik dat ons ook so kan bydra tot die leergeleenthede van die Laerskool Cloetesville. My opregte waardering aan ons kollegas en die skoolgemeenskap dat ons op hierdie manier kan saamwerk.”
Van Rooi sê aangesien die skool nou ’n 10 kW-omsetter het, sal die US nog ’n paar sonpanele skenk om te verseker dat die aanleg teen volle kapasiteit kan werk.
Agter hierdie jong Innovus-maatskappy sit die span van GreenX onder die leiding van dr. Jason Samuels, wat aan die einde van 2021 sy PhD in elektriese ingenieurswese ontvang het asook navorsing wat gelei het tot energiekostebesparings by skole in die Stellenbosch- en Paarl-streek.
Samuels se mentor, prof. Thinus Booysen, professor by die US se departement elektriese en elektroniese ingenieurswese, en prof. Saartjie Grobbelaar, professor in die departement bedryfsingenieurswese, is albei by die maatskappy betrokke.
Salie Abrahams, die adjunk-direkteur-generaal van onderwysbeplanning by die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), sê dié projek wys wat skole kan doen om gemeenskappe te help om ná ’n baie moeilike tydperk te herstel.
“Vandag is ’n fantastiese dag. Hier sien ons eerstehands hoe skole ’n breër rol in gemeenskappe kan vervul deur dienste te verskaf wat hulle kan help ophef. Met hierdie kreatiewe projek sien ons hoe skole kan help om die nasionale energiekrisis die hoof te bied en die veerkragtigheid en algemene welstand van die plaaslike gemeenskap van Cloetesville te verbeter. Ons moet nou ’n manier vind om ’n skaalbare model te ontwikkel wat ons na meer skole kan uitrol sodat meer gemeenskappe by hierdie vernuwings kan baat vind.”
Abrahams het gesê die Wes-Kaapse regering en WKOD wil aan hierdie proses deelneem. “Om hierdie projek vorentoe te neem, is ’n prioriteit vir ons en ons sien daarna uit om die vennootskappe te bou wat die nodige platform sal skep om soveel skole as moontlik aan boord te kry. Hierdie projek het die volle ondersteuning van die WKOD vorentoe.”
Meer skole bevoordeel
Die WKOD het onlangs die geleentheid aan GreenX Engineering gebied om IoT-energiebestuur en beligtingsdoeltreffendheid-opgraderings by 25 geen-fooi-skole in die Wes-Kaap van stapel te stuur en hulle te help om hul elektrisiteitsrekeninge te verklein. GreenX het uitgebreide energie-oudits vir hierdie projek, wat R6 miljoen behels, by die verskillende skole gedoen om te bepaal hoe hulle die skole met energiebesparende ligte en meters kan help om hul energieverbruik te meet en te bestuur.
“Ons het reeds 100 geen-fooi-skole in die Wes-Kaap geïdentifiseer wat by ons energie-ingrypings sal baat vind,” sê Samuels. “Ons hoop ná die suksesvolle voltooiing van die werk aan die eerste 25 skole sal die WKOD ons projek uitbrei om die res van die 75 skole in te sluit. Hierdie energie-ingrypings sal gebruikskostebesparings vir die skole teweeg bring, en ook die WKOD grootliks bevoordeel aangesien die departement ’n bloudruk sal hê om na ander skole in die streek uit te rol.”
Samuels sê: “Ons voorsien dat ’n skool enigiets tussen 20% en 40% op hul energierekeninge sal kan bespaar, wat ’n gemiddelde besparing van sowat R3 000 per skool per maand en ’n totaal van R36 000 per jaar kan beteken.”