Kranige skrywer van Cloetesville mik nog hoër

As kind het sy gesukkel om haar gevoelens en emosies uit te spreek, maar wanneer sy met ’n pen gewapen was, het die woorde wat sy wou uiter, net natuurlik uit haar gevloei.


As kind het sy gesukkel om haar gevoelens en emosies uit te spreek, maar wanneer sy met ’n pen gewapen was, het die woorde wat sy wou uiter, net natuurlik uit haar gevloei.

Toe het Audrey Bennett nie besef skryf sou haar passie en lewe word nie. Dié boorling van Cloetesville het haar liefde vir skryf sedert 2015 in meer as net ’n stokperdjie verander.

Sy is deesdae ’n selfgepubliseerder digter en skrywer wie se werk reeds in vyf boeke omgeskep is.

Dié 59-jarige ma en ouma is tans besig met nog drie skryfprojekte, wat sy hoop die lig in die volgende paar maande sal sien. “As kind het ek altyd geskryf; dit was altyd my manier om my emosies uit te druk,” vertel sy.

“Met ’n pen in die hand het die woorde in die vorm van gedigte net gevloei. Ons familie was altyd lief vir lees, en ons is steeds. Boeke was altyd om my as kind. Skryf bied vir my ’n uitlaat; dis die plek waar ek die veiligste voel.”

Bennett het in 2014 deur ’n egskeiding gegaan en haarself weer na skryf gewend om haar emosies van die traumatiese gebeurtenis op papier te sit. “Dit was vir my terapeuties om al die ‘gif’ in my liggaam op papier te sit. Ek wou nie die werk publiseer nie, want dit was persoonlik, my eie ervaring, maar ek het besef dit kan moontlik iemand anders uit ’n donker plek help,” sê Bennett.

Só is haar eerste Engelse digbundel, Women Unite, in 2015 gepubliseer. Vandag word van die gedigte in die bundel deur beraders in sessies met hul kliënte gebruik en die digter is verheug dat haar werk ander deur moeilike tye help.

Sy beskryf die oomblik toe sy haar eerste boek in haar hande gehou het as ’n “tranedal, want iets mooi is uit die chaos van my lewe gebore”. “Dis vir my ’n riem onder die hart dat my gedigte ander vroue help. Die werk het my laat besef dat die lewe aangaan en ons moet die stukkies optel en aanbeweeg.”

Women Unite het vier ander boeke gevolg: I am a South African (2016); Vlenters (2017); Journey Home (2021) en Animal Poetry (2023). Vlenters, ’n mengelmoes van dinge wat sy sien en ervaar, is haar enigste Afrikaanse werk en Animal Poetry is die enigste boek wat onder die naam “Audrey Francis Bennett” gepubliseer is. Gewoonlik skryf sy onder die naam “Audrey Francis”.

I am a South African is tans by die Cloetesville- en Pleinstraat-biblioteek beskikbaar.

Dié digter en kortverhaalskrywer is tans besig met drie projekte – een wat slegs raaisels bevat, ’n boek oor haar besoek aan haar dogter in Amerika en een wat sy “Klara” noem, maar nie veel oor uitbrei nie. Sy het ook reeds in 2018 aan haar lewensverhaal begin skryf, maar bieg dat sy dít iewers in ’n kas weggepak het en nie weer na die werk gekyk het nie.

Haar hoofdoel vir 2024 is om die drie projekte te voltooi en tradisionele uitgewers met dié werke te nader. Intussen geniet sy haar tyd met haar kinders en kleinkinders en beoog om soos voorheen jongelinge by die Cloetesville-biblioteek met kreatiewe skryfwerk te ondersteun.

Bennett hoop ook om ander digters en skrywers in Cloetesville te ontmoet en saam ’n skryfgroep op die been te bring sodat hulle wenke en ervarings met mekaar kan deel.

Sy beoog ook om vir ’n formele skryfskool in te skryf, want “als wat ek van skryf weet, het ek my self geleer”.

Verder is haar grootste droom om ’n aanlyn winkel te stig, wat allerlei goedere met diglyntjies verkoop. “Ek het reeds armbandjies, T-hemde en koppies wat by die Co-Create Hub en Anna se Winkel te koop is, maar ek hoop om hierdie onderne­ming na groter hoogtes te neem.” .

Haar raad aan aspirant-skrywers is om ’n joernaal te hou en aan te hou skryf. “Vir my is dit belangrik om my gedagtes op papier te sien; ek leer daaruit. Die lewe is ’n les en ’n mens leer uit elke ervaring. As jy dit neerpen, kan jy teruggaan en daaruit leer.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.