Die o.19A-span van Paul Roos Gimnasium (PRG) se eerste krieketspan het vroeg in Januarie reeds hul kolwe afgestof ter voorbereiding van ’n besige seisoen.
Die doel van die wedstryde tydens die krieketfeesweek is om met kolflyste en boulers te eksperimenteer. Ná afloop van die toernooi het die span drie van sy vier wedstryde gewen en in ’n vriendskaplike T20-wedstryd teen die Hoërskool Garsfontein vasgeval.
Die span se eerste wedstryd was teen die Hoërskool Marais Viljoen. PRG het eerste gekolf en 198/8 aangeteken danksy ’n stewige bydrae deur Cornel Swart (66). Die Hoërskool Marais Viljoen is vir 154 uitgeboul en PRG het die wedstryd met 44 lopies beklink. Neil Barnard 3/25 en Luca Plekker 3/33 was die beste boulers.
In hul tweede wedstryd het PRG teen die Hoërskool Westville te staan gekom. Westville het eerste gekolf en is vir 174 lopies uitgeboul, met Callum Appollis (3/24) wat met die bal vir PRG uitgeblink het.
PRG het 177/5 aangeteken om die wedstryd met vyf paaltjies te wen. Liam Basson (39*) en Swart (38) was die top-kolwers.
In hul wedstryd teen die Hoërskool Hans Moore het PRG eerste geboul en uit die staanspoor oorheers. Die seuns van Hans Moore is vir slegs 112 uitgehaal danksy puik boulwerk deur Dian Winkel (4/15) en Keauno Williams (3/15).
Die PRG-kolwers het die teiken met gemak gehaal (116/2) en die span het ’n agt-paaltjie-oorwinning behaal. Basson (57*) en Plekker (37) was die beste kolwers.
In die T20-wedstryd teen die Hoërskool Garsfontein het Garsfontein eerste gekolf en 157/6 aangeteken. Dylan van Schalkwyk (2/25) was die beste bouler vir PRG.
Die tuisspan is hierdie keer vir 107 lopies uitgeboul en moes die knie met 50 lopies buig. Slegs Plekker (26) het ’n noemenswaardige bydrae met die kolf gelewer.
Die PRG o.15A-span was ook tydens die feesweek in aksie en het in al vier hul wedstryde geseëvier.
Hulle het die week met ’n sewe-paaltjie-oorwinning teen die Hoërskool Marais Viljoen begin. Die manne van Alberton het eerste gekolf en is vir 90 lopies uitgehaal danksy puik boulwerk deur Pieter Luttig (4/15) en Deon Slabber (4/17). Luttig (20) was ook die beste kolwer in die PRG-kolfbeurt (93/7).
In die tweede wedstryd het PRG teen die Hoërskool Westville kragte gemeet. Die tuisspan het eerste gekolf en 197/10 aangeteken, met Nathan van der Berg (77) wat die meeste lopies geslaan het.
Op hul beurt het die Westville-kolwers maar gesukkel en hulle is almal vir 122 lopies uitgehaal. Slabber (3/27) was PRG se beste bouler in hul 76-lopie-sege.
Die o.15A-span het ook teen die o.15A-span van die Hoërskool Hans Moore te staan gekom. PRG het eerste gekolf en is vir 184 lopies uitgeboul, met Ruben van Rensburg (42) wat die beste gekolf het. Hans Moore is op hul beurt vir 124 lopies uitgehaal om PRG ’n 60-lopie-oorwinning te gee. HJ Kriek (3/15) was die beste bouler.
In ’n T20-wedstryd teen die o.15A-span van die Hoërskool Garsfontein het die Stellenbossers met agt paaltjies geseëvier. Die besoekers het eerste gekolf en 94/8 aangeteken. Luttig (4/24) en Noah Appollis (2/18) was die beste PRG-boulers.
Op hul beurt het die PRG-kolwers vinnig die teiken kafgedraf (96/2) om hul span ’n agt-paaltjie-sege te gee. Van der Berg (49*) het met die kolf uitgeblink.