Gizelle Abrahams van Coronation-krieketklub het Sondag (25 Februarie) met die kolf en bal uitgeblink in ’n wedstryd teen Grabouw-krieketklub. By haar staan haar trotse afrigter, Angus Simmers.


Twee spelers van die vrouespan van Coronation-krieketklub sal hierdie naweek lid wees van die Boland se senior vrouegroep.

Gizelle Abrahams en Mia-Lize van der Vyver sal Saterdag (2 Maart) dié span in ’n 50-boulbeurt-wedstryd teen Oostelike Provinsie in Gqeberha verteenwoordig. Die twee talentvolle krieketspelers sal ook Sondag (3 Maart) vir die Boland in ’n 20-boulbeurt-wedstryd uitdraf.

Albei spelers het voorheen hul buiging vir die provinsiale span gemaak.

Van der Vyver het in Januarie ’n jare lange kolfrekord van die Coronation-vrouespan verbeter toe sy in ’n 50-boulbeurt-wedstryd teen Grabouw 271* lopies aangeteken het (“Mia-Lize stel rekord op”, Eikestadnuus, 1 Februarie).

Abrahams, ’n inwoner van Lanquedoc en ’n gr.12-leerder aan die Hoërskool Kylemore, sal hoop om voort te bou op haar vertoning in ’n 20-boulbeurt-wedstryd teen die Grabouw-krieketklub by Coetzenburg in Stellenbosch die afgelope naweek.

Dié talentvolle veelsydige speler is Sondag (25 Februarie) as die speler van die wedstryd aangewys nadat sy die kolfbeurt van Coronation gelei het deur 50* lopies aan te teken.

Sy het ook boulsyfers van 2/10 opgelewer en ’n kritieke rol in haar span se sespaaltjie-sege gespeel.

Grabouw het eerste gekolf en is almal vir 84 lopies uitgehaal.

Die ander Coronation-boulers wat goed gevaar het, is Zadie Petersen (2/3), Luzé Carolissen (1/17), Kristen Fredericks (1/12) en Esha Groenewaldt (1/20).

Met Abrahams voor die penne het die Pniëlers die teiken met gemak in die 13de boulbeurt gehaal en die wedstryd beklink.

Abrahams en Van der Vyver vertrek Donderdagaand as lid van die Boland-span na die Oos-Kaap.

You need to be Logged In to leave a comment.