Die uitblinkers van die jaarlikse krisanteskou in Pniël het hul spogblomme die afgelope Saterdag (3 Mei) tot groot vreugde van besoekers en plaaslike inwoners ten toon gestel.
Kwekers het weer die Pniël Congregational-kerksaal in ‘n kleurryke blommeruiker verander en hul blomme, wat deur ‘n span kenners beoordeel is, uitgestal.

Foto: Yaël Malgas
Die bobaaskweker en een van die stigterslede van die kompetisie, Titus Simpson, het byna skoonskip gemaak by vanjaar se kompetisie en was ook die wenner van die gesogde beste-blom-prys.
“Ek sou enigeen wat krisante wil kweek, aanraai om met die stokperdjie te begin. Dit verg toegewydheid, want jy moet daagliks na jou plante omsien, ‘n bietjie skoonmaak waar hulle groei en steggies maak, maar dit is ‘n goeie manier om besig te bly. Iemand wat ‘n passie vir tuinmaak het, sal dit geniet,” sê Simpson. “Die plante is soos babas. Dit neem nege maande vir hulle om ten volle vir die skou te groei, dus moet kwekers liefde en deursettingvermoë hê.”
Simpson, sy broer Freddie en Bernard Mentoor was die Pniëllers wat die tradisie van die skou in 1981 begin het.
Dit is egter nie net Stellenbossers wat aan die kompetisie deelneem nie.
Die kweker Karel Lewies van Paarl het verlede jaar ook sy blomme op die skou uitgestal. Saterdag het hy die top-prys gewen vir beste “reflex” en beste “incur A”.
Lewies sê die onlangse warm weer het die kweek van sy kristante bemoeilik, maar hy het die struikelblok oorkom. Volgens sy vrou, Sonja, word sy sommige dae afgeskeep vir die blomme, maar sy kla nie veel as hy wen nie.
Sy het ook een van Lewies se geheime vir pragkrisante verklap. “Hulle luister na die radio. Hy sit die radio aan terwyl hy met die blomme werk en ek dink dit help,” sê sy skertsend.
Kwekers ding in verskeie afdelings mee, wat groot reflex, incurve, spiders en anemone insluit. Blomme moet 60 cm lank wees en in ‘n glasbottel uitgestal word.
Beoordeelaars kyk dan na die
gesondheid van die blom en blare.
Uitstallers weet dit is ‘n fyn kuns om te verseker die blomme vars bly vir die beoordeling en elke kweker het sy eie resep van aluin, bleikmiddel en suiker om te verseker dat die blomme op die skoudag die beste lyk.
Walter Lackay het verskeie pryse vir sy blomme verower. Hy sê goeie voorbereiding van sy blombeddings is wat sy blomme laat uitstaan.
Besoekers soos Amanda Kruger van Stellenbosch het na afloop van die kompetisie die geleentheid gekry om van die skoukrisante huis toe te neem.
Sy het die skou die afgelope naweek die eerste keer besoek en was uiters beïndruk.
“My mond hang behoorlik oop. Dit is pragtig en ek maak self tuin, en kan net dink watter harde werk ‘n geleentheid soos hierdie verg nie,” sê sy.
Vir ander, soos die Pniëller Margaret Williams, is die skou ‘n instelling wat sy nooit mis nie.
“Dit is die tekstuur en die kleur van die blomme wat ek geniet. Ek mis nooit die skou nie. Dinsdag is my verjaarsdag, dus het ek gekom om vir myself blomme te koop vir die geleentheid.”






You must be logged in to post a comment.