Krisis dreig in skole

Onsekerheid heers onder skole nadat die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) aangekondig het ’n tekort van sowat R3,8 miljard sal lei tot die besnoeiing van byna 2 400 kontrakposte.


Onsekerheid heers onder skole nadat die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) aangekondig het ’n tekort van sowat R3,8 miljard sal lei tot die besnoeiing van byna 2 400 kontrakposte.

Volgens ’n betroubare bron kan een plaaslike hoërskool tot agt poste verloor weens die kleiner begroting. Dit sal beteken kontrak-onderwysers se poste sal nie ná 31 Desember hernu word nie.

In ’n verklaring verduidelik die departement slegs 64% van sy begroting is deur die nasionale departement van basiese onderwys goedgekeur. Ten spyte van die besnoeiing van hul begroting wat administratiewe dienste, die kurrikulum en infrastruktuur insluit, was dit steeds nie genoeg om op te maak vir die gebrek aan geld nie.

Eikestadnuus het met ’n plaaslike hoof gesels wat sê die situasie is soos ’n kat wat in ’n duiwehok losgelaat is.

“Hoofde sit met hul hande in hul hare. Die werklikheid is een pos wat ’n openbare skool verloor is een pos te veel. Baie van ons het gehoop dit sal nie neerkom op besnoeiing van personeel nie, maar ons was nie so gelukkig nie,” verduidelik dié hoof.

Makanatsa Ziyambi van Equal Education meen die publiek moet druk op beide die nasionale en provinsiale onderwysdepartemente uitoefen om hul grondwetlike verpligtinge teenoor leerders na te kom. “Hierdie besnoeiing van 2 703 poste is nie net syfers nie, dit is bestaande poste. Minder onderwysers vir meer leerders sal ’n langdurige negatiewe uitwerking op leerders se opvoeding hê. Oorvol klaskamers is reeds ’n probleem wat as gevolg van die begrotingsbesnoeiing verder sal eskaleer,” sê Ziyambi.

Sy sê dit is veral leerders van skole sonder skoolfooie waar die gehalte van onderrig daaronder sal ly.

Die WKOD waarsku ook die besnoeiing van kontrak-onderwysers kan ook daartoe lei dat sommige permanente opvoeders gevra kan word om na ’n ander skool te skuif waar daar ’n geskikte vakature is.

Maniere vir skole om die tekort aan personeellede op te maak is om meer beheerliggaamsposte te skep of om die nodige geld in te samel om self vir kontrak-onderwysers te betaal, met albei opsies wat groter finansiële druk op skole plaas, verduidelik die hoof.

Hy sê ook benewens die kommer wat onder kontrak-onderwysers heers, is die boodskap aan huidige onderwys-studente dat daar nie genoegsame werksgeleenthede vir hulle is nie.

“In daardie geval verloor die land vele kundige, jong onderwysers wat liewer werksgeleentheid in die buiteland gaan soek,” meen hy.

Vir meer gegoede skole soos Paul Roos Gimnasium (PRG) is die begroting-besnoeiing ’n uitdaging wat die skool kan absorbeer.

“PRG, soos alle skole, word geraak deur die besnoeiing van WKOD-poste. In ons geval is die impak binne ons vermoë om te hanteer en ons sal verseker dat ’n hoë standaard van onderrig steeds gehandhaaf word,” verduidelik André van Staden, PRG-rektor.

Intussen het David Maynier, provinsiale minister van onderwys, bevestig hy het die situasie aan die Raad van Onderwysministers verduidelik vir onmiddellike aksie.

“Die departement moes nooit in hierdie posisie geplaas gewees het nie en ons sal alles in ons vermoë doen om vir ons onderwysers te veg.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.