Eleanor Denise Damon saam met David Bailey, die kampioen Leonard “Lenny” Bailey en sy ma, Angeline Bailey.


Dit was inderdaad ’n spoggeleentheid toe Leonard Bailey, ’n oudleerder van Dorothea Spesiale Skool en ’n Suid-Afrikaanse kampioen, se boek bekendgestel is.

Vriende en familie van Lenny, soos hy alombekend staan, het Saterdag (3 Augustus) bymekaargekom.

Eikestadnuus het onlangs berig Lenny se ouers, Angelina en David Bailey, het ’n jaar gelede besluit om vir hul downssindroom-seun ’n boek Goud vir Lenny saam te stel. Die doel van hierdie boek was tweeledig.

Eerstens sou die boek ander ouers en die breë gemeenskap bewus maak dat alle drome van alle kinders deur harde werk waar gemaak kan word. Lenny is ’n vyfmalige nasionale wenner in spiesgooi, diskus en gewigstoot en bring hoop om te volhard. Tweedens word die winste van die boek aangewend om Lenny se sport-uitgawes te dek. Sy ouers is albei pensioen­trekkers en werk hard, saam met familie en vriende, om gesellighede te reël om Lenny by sportbyeenkomste te kry.

Dit was ’n emosionele geleentheid, omdat Lenny by kere nie kon ophou dankie sê met trane van vreugde en dankbaarheid nie.

Bel Angelina by 084 089 0280 om Goud vir Lenny teen R250 te bestel.

You need to be Logged In to leave a comment.