Die US se opedag vind Saterdag 24 Februarie plaas.Foto:


Die Universiteit Stellenbosch (US) se opedag is die geskikte geleentheid vir graad 11- en 12-leerders om waardevolle inligting oor studiegeleenthede by tersiêre instellings te bekom.

Die opedag vind Saterdag 24 Februarie van 08:30 tot 16:00 by die Stellenbosch- en Tygerberg-kampusse plaas.

“Die groot voordeel van ’n opedag is dat voornemende studente direk met personeel verbonde aan die universiteit kan gesels. So kan hulle die inligting kry wat hulle wil hê oor die onderskeie studievelde en die ondersteuningsdienste wat die universiteit bied,” vertel Magdel Pretorius, projekbestuurder: sentrum vir studentewerwing en loopbaanadvies.

Besoekers kan inligting kry oor loopbaankeuses, finansiële steun, studiegeld, koshuisplasings, verblyf en studentelewe, terwyl die afdeling studentesake in Bosmanstraat inligting oor verblyf op kampus en die opsies vir private verblyf sal deurgee.

Leerders wat belangstel in hoëprestasiesport kan ook met atlete en sportbestuurders van Maties Sport op die Rooiplein gesels.

“Nuut op vanjaar se program is ’n spesiale uitnodiging aan die nuwe generasie Matie-studente om hul toekomsdrome op ’n ‘droommuur’ op die Rooiplein te kom skryf,” vertel Pretorius.

Inligtingsessies

Besoekers word aangemoedig om eers by die verwelkomingstent voor die konservatorium in Victoriastraat aan te meld. Volledige inligting oor die dag se program en die inligtingsessies is hier beskikbaar, terwyl daar oor die hele kampus inligtingsbeamptes sal wees om besoekers raad te gee.

Die inligtingsessies dek onder meer die volgende temas:
. Aansoekproses vir toelating en koshuisplasing
. Finansiële steun
. Die proses om ’n studieveld te kies
. Studenteondersteuning (insluitend studente met spesiale leerbehoeftes)
. Taalondersteuning
. Veiligheid op kampus

Registreer vir die opedag

Leerders word aangemoedig om vir die opedag te registreer. Voornemende studente kan ook vanjaar middagetes in US-koshuise teen R60 bespreek sowel as vervoer na die fakulteit van geneeskunde en gesondheidswetenskappe op die Tygerberg-kampus. Registrasie kan gedoen word by die skakel http://bit.ly/2ncjqDw

Belangrike inligting om te onthou:
. Besoek www.maties.com vir die volledige opedagprogram met tye en venues of skakel 021 808 9111 of stuur ’n e-pos na info@sun.ac.za.
. Weens die waterkrisis in die Wes-Kaap moedig die universiteit besoekers aan om hul eie gebottelde water saam te bring.

Loopbaanvoorligting

Die universiteit bied toegang tot ’n gratis vraelys met betrekking tot loopbaanvoorligting, beskikbaar by www.gostudy.net/maties. Hierdie vraelys identifiseer toepaslike studievelde en koppel dit aan ’n verskeidenheid van moontlike beroepe en studiemoontlikhede.

Pretorius voeg by: “Nog ’n innoverende program is die Course Chooser-program, wat ook by www.gostudy.net/maties beskikbaar is. Dié program help voornemende studente om programme te vind waarvoor hulle kwalifiseer op grond van hul graad 11- of graad 12-uitslae en punte. Dit sal studente ook natuurlik ’n goeie aanduiding gee met wie hulle moet gesels by die opedag.”

“Die US bied loopbaanvoorligting aan sowel graad 11- as graad 12-leerders. Die diens sluit ’n psigometriese assessering van persoonlikheid, aanleg en belangstellings, individuele gesprekke en ’n geskrewe verslag van die uitslae en aanbevelings in,” benadruk Pretorius.

Stuur ’n e-pos na svs@sun.ac.za om ’n bespreking te doen of skakel 021 808 4709.

You need to be Logged In to leave a comment.