Stellenbossers kan tot op 80% afslag kry by die Toyota US Woordfees op Wilde Woensdag, 28 Septemer, wanneer meer as ’n 1 000 kaartjies vir vanjaar se fees teen afslag van 20% tot 80% aangebied word.
Alle kaartjies wat op die Wilde Woensdag-uitverkoping beskikbaar is, sal teen slegs R40 een verkoop word. Verskeie gelukkige trekkings en kompetisies sal ook deur die loop van die dag plaasvind.
“Met Wilde Woensdag wil ons aan die dorp dankie sê vir lojale ondersteuning. Ons wil ook soveel moontlik Stellenbossers die kans gee om aanbiedings tydens die fees by te woon. Ons versoek dus mense wat volpryskaartjies kan bekostig, vriendelik om nie van die spesiale aanbiedings op Wilde Woensdag gebruik te maak nie,” sê Saartjie Botha, die Toyota US Woordfeesdirekteur.
Meer as ’n 100 van die produksies wat vanjaar by die Woordfees te sien sal wees, is deel van die Bly Vrydag-uitverkoping. Dit sluit die gewilde Jan Marais Park-buitelugkonserte in met optredes deur kunstenaars soos Early B, Karen Zoid, Dr Victor & The Rasta Rebels, Spoegwolf, Bongeziwe Mabandla en Eet kreef! Herleef!
Kopers kan met kontant of ’n bankkaart betaal en afslagkaartjies is slegs by die Erfurthuis, in Pniel (plek sal aangekondig word) en by Hoërskool Lückhoff tydens aangeduide tye wees.
Die aanbod geld net vir uitgesoekte vertonings en die aantal afslagkaartjies per vertoning is beperk. ’n Vaste aantal kaartjies word per verkoopspunt beskikbaar gestel teen ’n maksimum van twee kaartjies per persoon per vertoning by elke verkoopspunt en ’n maksimum van ses kaartjies in totaal per persoon per verkoopspunt.
“Vir R40-kaartjies kan geen besprekings of telefoonbesprekings gemaak word nie. Die uithou of omruil van Wilde Woensdag-kaartjies is ook nie moontlik nie,” sê Botha.
Bly Vrydag-kaartjies is by die volgende vier plekke gedurende die volgende tye beskikbaar:
- 07:00 – 08:00: by Hoërskool Lückhoff
- 10:00 – 11:30: by Erfurthuis (voor op die stoep)
- 12:30 – 13:30: by Pniel-banketsaal (in dieselfde gebou as die biblioteek), Helshoogtepad, Pniel
- 17:30 – 18:30: by Erfurthuis in die kaartjieskantoor
Die volledige feesprogram is op die Woordfees se webwerf beskikbaar: www.woordfees.co.za.