Dié groep is verlede jaar vir hul werk in kultuur en erfenis tydens die jaarlikse Erfenis-prysuitdeling vereer.

Credit: Ricardo De Nobrega

Die plaaslike gemeenskap word genooi om benoemings vir die jaarlikse Erfenis-eretoekennings van die Universiteit Stellenbosch-rektor en die Stellenbosse burgemeester in samewerking met e’Bosch in te dien.

Vanjaar se toekennings fokus op sakeondernemings en organisasies wat ’n uitsonderlike bydrae tot die bevordering van kultuur en erfenis lewer.

Benoemings van ondernemings en organisasies uit al 15 dorpies van Stellenbosch en Franschhoek word ingewag.

Die Erfenis-eretoekennings word die afgelope 12 jaar oorhandig om erkenning te gee aan mense en instansies wat proaktief werk om die infrastruktuur wat in erfenis opgesluit is, te bewaar en konstruktief oor te dra.

e’Bosch nooi graag mense wat gemeenskaplike kultuurtradisies en erfenis deel, om dit saam te vier. In die proses van saam krieket en sokker speel en saam braai, word gewerk om verhoudings tussen alle inwoners in die groter Stellenbosch-omgewing te bevorder en mense aan te moedig om hul eie kultuur te waardeer en bewaar, asook die kultuur, gebruike, taal en sienings van ander te respekteer.

Die Stellenbosch-burgemeester, adv. Gesie van Deventer, en die US-rektor en visie-kanselier, prof. Wim de Villiers, tesame met e’Bosch, vereer elke jaar ’n handjievol inwoners vir hul bydraes tot die bevordering van kultuur, die bewaring daarvan en die bewusmaking van die belang van erfenis in die onderskeie gemeenskappe en veral onder die jeug.

Die pryse sal Woensdag 11 September tydens ’n spesiale geleentheid deur Van Deventer en De Villiers oorhandig word.

Benoem dus sakeondernemings en organisasies wie se werk oor ’n lang tydperk ’n positiewe verskil ten opsigte van erfenisbewaring in hul eie of enige ander gemeenskap gemaak het.

  • Benoemingsvorms kan per e-pos by carol@ebosch.co.za aangevra word, of stuur gerus ’n WhatsApp-boodskap na 061 595 4085.
  • Die sluitingsdatum vir benoemings is Vrydag 23 Augustus.

You need to be Logged In to leave a comment.