’n Vriendelike en bekende gesig van ’n plaaslike kunsskool het Donderdag 14 Desember sy verfkwas tydelik neergelê en die instansie wat hy sedert 1988 as onderwyser en skoolhoof gedien het, gegroet.
Nelis Koegelenberg was vir 35 jaar ’n integrale deel van die PJ Olivier-kunssentrum aan Die Braak in Stellenbosch. In sy tyd by die skool het dié flambojante kunstenaar deur die geledere van onderwys beweeg. Hy het by dié instelling as ’n “gewone onderwyser” begin voordat hy as departementshoof aangestel is en uiteindelik in 2006 as skoolhoof die leisels oorgeneem het.
Hy onthou sy eerste dag by die sentrum asof dit gister was, en wys daarop dat hy presies die helfte van die skool se bestaan deel daarvan was, aangesien die instelling vanjaar sy 70ste herdenking gevier het.
“Ek het hier as ’n vars jong onderwyser in 1988 – ’n skrikkeljaar – ingestap. Ek is aangestel om tekstielontwerp as vak aan te bied,” herroep Koegelenberg.
“Sedertdien het honderde kunsstudente van 17 skole deur my hande gegaan, baie wat vandag bekende kunstenaars is. Ek is trots om te sê dat ek ’n hand in die vorming van hul kunsloopbaan gehad het, en die skool in die algemeen. Baie van my leerders het kuns hul loopbaankeuse gemaak; van hulle werk as modeontwerpers, binneversierders en tekstielkopers. Met die goeie samewerking en kundigheid van die skoolpersoneel het ons baie suksesstories om te vertel.”
Met twee diplomas in sy arsenaal het die 60-jarige sy onderwysloopbaan in 1982 by die Laerskool Newton in Kimberley begin. Hier het hy twee jaar deurgebring voordat hy vir ’n BA-graad in Beeldende Kunste aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer het. In 1992 het hy ’n honneursgraad behaal.
“As onderwyser was die grootste genot om te sien hoe die kinders kreatief groei. As skoolhoof was dit vir my belangrik om na die kinders, my kliënte, te luister en hulle te bemagtig, sodat hulle kan presteer. Ek was vasberade om vir hulle die gereedskap en vaardighede te bied om sukses te behaal, en ek kan met trots sê dat ek dít wel met honderde kinders oor die jare heen verrig het.”
Koegelenberg is trots op die feit dat hy gedurende sy termyn as skoolhoof ’n oopdeurbeleid gehandhaaf het, iets wat hy as ’n hoogtepunt van sy loopbaan beskou.
“Hierdie sentrum is in die hart van die dorp geleë en is ’n baken van lig en hoop vir baie,” sê hy.
“Van die oomblik dat ek as skoolhoof aangestel is, was dit my missie om hoop aan die studente te gee, dat hulle die lig mag sien en diep mag delf om daardie kreatiwiteit te vind wat in elk van ons ontgrendel moet word. Met die ontdekking van daardie kreatiwiteit is by elke kind pure geluk ontsluit, wat beteken het dat ek my doelwit bereik het.”
Die man met die kenmerkende donker hare en dik snor het talle goeie verhoudings met plaaslike organisasies, instellings en ondernemings gesmee, nie net om die skool bekend te maak nie, maar ook om te groei as ’n plek waar die deure van leer en kreatiwiteit altyd vir mense van alle lewenswandelinge oop is.
Hy is veral trots op sy en die sentrum se verskeie pogings om kuns na die mense te neem, veral die Kickstart-program wat by die Hoërskool Lückhoff van stapel gestuur is en die bemagtigingsprojek met die vroue van Khayamandi twee jaar voor die 2010 Sokker-wêreldbeker.
“Daar is baie suksesstories waarmee ons kan spog, maar vir my was elke dag by hierdie skool ’n suksesstorie, want hier kon ek help om mense te laat droom. Baie mense het deur hierdie deure gestap en hul verbeelding gebruik om kunsskeppings op te tower.
“Ek het goeie verhoudings met die ouers, die amptenare van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement en diegene op die beheerliggaam gebou. Dít het als tot my sukses by die skool bygedra.”
Hoewel Koegelenberg die skool gegroet het, het hy nie vir Stellenbosch of die kunste gegroet nie. Die trotse Stellenbosser beplan om in sy aftrede by ’n kunsprojek in Kylemore betrokke te wees, deur die Eikestad se strate fiets te ry, voort te gaan met sy skilder-, keramiek-, en porseleinkuns, meer boeke te lees en die wêreld te verken op vele reistogte.
“Volgende jaar het ek ’n artist in residence-geleentheid in New Mexiko in Amerika en ek gaan ook in April by vriende in Nederland kuier.”
Waarna gaan hy die meeste verlang?
“Ek gaan die mense verskriklik mis – my leerders en elke personeellid wat net deur hul teenwoordigheid en met hul helder en sprankelende persoonlikhede my dae opgekikker het en elke dag by die sentrum ’n lieflike ervaring gemaak het.”