Die PJ Olivier-kunssentrum in Stellenbosch, een van die beste instellings van kunsopvoeding in die land, het onlangs ’n erkenningsgeleentheid vir al sy weldoeners en borge gehou.
Die geleentheid is deur baie van die weldoeners en borge bygewoon, onder wie advokaat Gesie van Deventer, die uitvoerende burgemeester van Stellenbosch, en Willie Maliwa, die kringbestuurder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), wat ’n erkenningsbord van toewyding aan PJ Olivier-weldoeners en -borge bekend gestel het.
Die geleentheid is gehou om al die weldoeners en borge, wat die skool oor baie jare ondersteun het, te bedank. “Hierdie ondersteuning verbeter die bedrywighede van die skool, stel die skool in staat om tot sy volle potensiaal te funksioneer en leerders eersteklasonderwys in nege verskillende kunsdissiplines te bied,” het Andi Norton, die programleier vir die aand, gesê.
PJ Olivier was verlede jaar een van die toppresterende kunssentrums in die land met 31 leerders wat die matriekeksamen vir visuele kuns geskryf het. Altesaam 23 het onderskeidings ontvang. Nog 37 leerders het die ontwerp-matriekeksamen geskryf en 20 het onderskeidings gekry.
“Die ondersteuning van finansierders maak hierdie uitstekende resultate moontlik deur personeel en bedryfskoste te borg, en dit skep ook beurse vir leerders wie se ouers nie die jaarlikse skoolfonds kan bekostig nie,” het Norton gesê.