Die interaktiewe beeldhouwerk waarop meer as 20 studente kan sit, is ’n replika van ’n groter weergawe wat in opdrag van RMB geskep is en waarvan die oorspronklike in die RMB Think-distrik by sy hoofkantoor in Sandton, Johannesburg, opgerig is.


Die Universiteit Stellenbosch het onlangs ’n ikoniese funksionele kunsstuk van 10 ton – die THINK Bench – bekend gestel.

Die stuk is deur GT Ferreira, ’n Merchant Bank (RMB)-stigter en US-alumnus, aan die universiteit geskenk.

Die 13 meter lange openbare beeldhoukunswerk, wat ontwerp is om vernuwende en samewerkende denke te vier en aan te moedig, sal nou permanent voor die US se Ingenieurskompleks in Banghoekweg te siene wees.

Die bank is deur die kunstenaar Louis Olivier en sy span van die Workhorse-bronsgietery in Johannesburg ontwerp.

Die bank spel die woord “THINK” van die een kant af, terwyl ’n mens uit ’n ander perspektief lewensgrootte menslike silhoeëtte in verskillende denkposisies sien. Dit dien as ’n nadenkende herinnering aan studente wat daar verbystap dat ’n mens partykeer jou perspektief moet verander om anders te dink.

Sandri du Plessis, voorsitter van die ingenieurstudenteraad, het gesê die kunswerk sal geweldig bydra tot ’n meer transformerende en diverse kampus en gemeenskap.

“Ons probeer ’n meer diverse en meer transformerende studente-ervaring daarstel en ek dink die THINK Bench sal ons pal aan daardie visie herinner. Ons beplan om dit te benut en ek hoop ander fakulteite sal dit ook gebruik. Ons wil regtig probeer om ’n meer geïntegreerde universiteitsgemeenskap te skep.”

Ferreira, wat RMB meer as vier dekades gelede gestig het, het gesê hy het hierdie bank geskenk om studente te inspireer om te doen wat alle studente veronderstel is om te doen, maar nie altyd doen nie – om te sit en dink in plaas daarvan om net inligting in die klas te absorbeer en dit in eksamens te herhaal.

“Dit klink dalk alledaags, maar die moeite wat dit verg om te dink, word dikwels onderskat. Henry Ford het die volgende gesegde in 1928 geskep: ‘Om te dink, is die moeilikste werk wat daar is, wat waarskynlik die rede is waarom so min mense dit doen’.”

Hy het bygevoeg studente moet die bank gebruik om te dink hoe hulle die wêreld – en Suid-Afrika – ’n beter plek kan maak.

“Dink aan belangrike kwessies soos hoe jy kan help om rasseharmonie in die land te bevorder; hoe jy kan help om die probleem van werkloosheid op te los en hoe jy hierdie universiteit kan help om selfs nog beter te word.”

Prof. Wim de Villiers, die US-rektor en -visekanselier, sê die universiteit is tans op ’n reis om sy institusionele kultuur te vernuwe en sy fisiese ruimtes visueel reg te stel.

“Daarom is hierdie RMB THINK Bench ’n tydige toevoeging tot die veranderende landskap van die Universiteit Stellenbosch.

“Ons streef daarna om vooruitdenkend te wees en om denkleiers en innoveerders te wees wat oplossings vir komplekse vrae en uitdagings wat ons land, vasteland en die wêreld in die gesig staar, deur navorsing vind.

“Dit is presies die reaksie wat ons wil hê die THINK Bench moet ontlok.”

Die interaktiewe beeldhouwerk, waarop meer as 20 studente kan sit, is ’n replika van ’n groter weergawe wat in opdrag van RMB geskep is en waarvan die eerste in die RMB Think-distrik by sy hoofkantoor in Sandton, Johannesburg, opgerig is.

Dit is nou ’n herkenbare landmerk in Sandton en die THINK-bankprojek is deur RMB se visie geïnspireer om deel van ’n inisiatief te wees om kreatiewe en vernuwende energie op prominente plekke van “vreeslose denke” oor die land heen te ontsluit.

You need to be Logged In to leave a comment.