Margaret Rossouw (links) en Katie van Niekerk van Maths 4 Africa.


Maths 4 Africa se eerste “Early Bird”-wiskundekursus is aan die begin van die kwartaal met groot sukses aangebied.

Altesaam 57 “Early Birds” van Stellenbosch, Somerset-Wes/Strand, Paarl, Bellville en Durbanville het hierdie drie-dag-lange kursus op Stellenbosch bygewoon.

Katie van Niekerk (Müller) het die graad 11’s en graad 12’s se onderskeie kursusse behartig en Margaret Rossouw het die kursus vir die graad 10’s aangebied.

Hierdie kursus, met die hupse naam “Early Bird”, was daarop gemik om spesifiek graad 10-, 11- en 12-leerders vir die komende kwartaal se wiskunde voor te berei. Die doel was om hulle ’n hupstoot te gee met die kwartaal se werk en te sorg dat hulle ’n stappie voor is.

Die hele kwartaal se werk is vooruit behandel en die “Early Birds” het die geleentheid gekry om heelwat voorbeelde in elke afdeling uit te werk. Op hierdie manier is verseker dat leerders reeds vertroud is met die werk wanneer die onderwyser dit in die klas behandel. In die klas hoor hulle dit dus vir die tweede keer en is die werk nie meer vir hulle nuut nie.

Dit kan verhoed dat leerders agter raak in die klas en gee hulle ook meer tyd om oefeninge te doen en probleme op ’n hoër kognitiewe vlak uit te werk. Dit verlig die druk op die leerders in die kwartaal en gee hulle ook meer selfvertroue met wiskunde.

Elke “Early Bird” het buiten sy / haar kursusnotas ook ’n gratis wiskunde-studiegids van Maths 4 Africa, geskryf deur Katie van Niekerk, ontvang. Die leerders was baie opgewonde oor hierdie nuttige boekie met sy kleurvolle opsommings, verduidelikings en voorbeelde.

Volgens die leerders se terugvoer het die kursus hulle ’n geweldige hupstoot gegee en die stres oor die komende kwartaal se werk ook sommer drasties verminder.

Dit is nie die eerste keer dat die susters Katie en Margaret saamspan om leerders se wiskunde te verbeter nie. Hulle is ook die skrywers van die Pythagoras graad 9-wiskundeboek en Katie is boonop medeskrywer van die Pythagoras graad 8-boek en skrywer van die Maths 4 Africa-studiegidse vir graad 10, 11 en 12.

V Die “Early Bird”-voorbereidingskursus vir graad 10- tot 12-leerders gaan voortaan voor elke nuwe kwartaal aangebied word. Vir meer inligting, kontak katie@maths4africa.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.