‘n Kaapse bergkwagga hardloop sedert Saterdagaand (25 Oktober) in die Franschhoekpas rond nadat dié jong vulletjie waarskynlik uit ‘n nabye CapeNature natuurreservaat ontsnap het.
Volgens Juani Beukes, een van die direkteure van Safe Hands Animal Rescue Franschhoek, het sy en haar span die eerste oproep oor die verdwaalde kwagga Saterdag omstreeks 20:00 ontvang.
Hulle het daarna inderhaas, in donker en reënerige toestande, na die pas vertrek om die vulletjie – ‘n merrie – op te spoor.
Beukes verduidelik dat sy en haar span op daardie oomblik gedink het “Fransie”, soos hulle die kwagga gedoop het, behoort aan ‘n nabye plaas.
Hulle het dus vir die kwagga stelselmatig probeer “afdruk” van die pas, waar sy op die pad gewaar is, na die plaas wat destyds sebras besit het, maar wat, volgens Beukes, intussen nie meer dié diere aanhou nie.
TERUG NA PAS
Die kwagga is “Fransie” genoem omdat sy glo gereeld naby die Franschhoek-teken, wat met klippe op die berg, naby die pas uitgepak is, gewandel het.
Die volgende dag (26 Oktober) omstreeks 08:00 het Beukes en haar span wéér ‘n oproep gekry dat die kwagga op ‘n ander plaas, Middagkrans, in dieselfde omgewing is, waarna sy weer teruggehardloop het na die Franschhoekpas.
Beukes sê CapeNature is op dieselfde dag uiteindelik gekontak om hulp te verleen, waarna van hul wildbewaarders die pas besoek het om Fransie oor die pas te kry, terug na die natuurreservaat.
Dit het ongelukkig nie vrugte afgewerp nie, en Maandag 27 Oktober is die kwagga weer bo die pas gewaar, waarna van die bewaarders berg op is om haar te probeer “afdruk na die pad sodat hulle haar padlangs oor die pas kon kry na die natuurreservaat”.
ONTWYK BEWAARDERS
Dit blyk die kwagga speel ‘n kat-en-muis-speletjie, want sy het wéér die bewaarders ontwyk.
Beukes het omstreeks 18:00 weer ‘n oproep ontvang dat sy op die plaas is waarheen sy en haar span die kwagga oorspronklik gelei het en waar sy oornag het.
Dinsdag (28 Oktober) het CapeNature en ‘n veearts reggestaan by dié plaas om die kwagga met ‘n verdowingsmiddel in te spuit, maar sy was skoonveld.
Volgens Beukes sal sy en haar span aanhou soek na dié vulletjie sodat sy veilig terug aan CapeNature besorg kan word.


