Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM), in samewerking met die Historium Trust en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), het 19 fenomenale vroue uit die distrik verlede Woensdag (28 Augustus) by die Kronenburg-landgoed in Paarl by die derde jaarlikse Kaapse Wynland-distrik se Fenomenale Vroue-prysuitdeling vereer.
Die uitnodiging vir benoemings, wat in Julie geopen het, het die publiek in staat gestel om onbesonge heldinne, wat inspirerende werk in die Kaapse Wynland-gemeenskappe verrig, in 10 afdelings te benoem.
Drie Stellenbossers was onder dié wat by die geleentheid vereer is, met Naomi Linders wat as die wenner in die Fenomenale vrou in landbou-afdeling aangewys is; Luiga Nicholas as die wenner in die Fenomenale vrou met gestremdhede-afdeling en Joha van Dyk as naaswenner in die Fenomenale vrou in die afdeling vir die bevordering van Afrikaans.
’n Paneel vooraanstaande vroue het die benoemings beoordeel en het die uitdagende taak gehad om die wenners en naaswenners uit meer as 100 oortuigende benoemings te kies.
Die prysuitdelingsgeselligheid is aangebied deur die TV-aanbieder Heinrich Wyngaard, bekend vir die gewilde Klop!-program op kykNET.
“Hierdie vroue inspireer hul gemeenskappe en motiveer ander om na uitnemendheid te streef. Hulle is vroue wat hul gemeenskappe met oneindige liefde en sorg dien, voed, opvoed, vertroos, beskerm en omhels,” het Michael Jonas, die direkteur van die ATM, gesê. Die geleentheid is ontwerp om aan hierdie merkwaardige vroue ’n oggend van ontspanning, genot en positiewe energie te voorsien.
Marizaan Bredenkamp, die besturende direkteur en stigter van Youth for Hope en Unit360 en die wenner van die Fenomenale vroue in ondersteuning-afdeling in 2023, was die motiveringspreker. Sy het almal aangemoedig om aan te hou om die verandering te wees wat hulle in die wêreld wil sien. Verder het die Fenomenale vrou in die afdeling vir die bevordering van Afrikaans in 2023, Veronica Botha, asemrowende digkuns gelewer. “Vandag eer en vier ons julle – die vroue wat onvergeetlike bydraes tot ons streek gelewer het. Jul toewyding aan jul werk, julle verbintenis tot jul gemeenskappe en julle onwrikbare vasberadenheid om ander op te hef, gaan nie ongesiens verby nie. Julle is die ligdraers van vooruitgang, die opsigters van ontwikkeling en die kampvegters vir geregtigheid en gelykheid,” het dr. Elna von Schlicht, die uitvoerende burgemeester van die KWDM, gesê.
Sy het ’n spesiale burgemeesters-prys aan die jong Dieuwke-Jean Linee oorhandig vir haar bydrae tot die nagedagtenis van Krotoa, met haar skildery van die historiese figuur wat nou in die kloktoring van die Groote Kerk in Kaapstad uitgestal word.
Die wenners, naaswenners en gaste het geskenke en pryse van die KWDM en vennote ontvang.