Fenomenale vroue van die Stellenbosch-distrik is verlede week by die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) se Fenomenale vroue van die jaar-prysuitdeling vir hul bydrae vereer.
Die prysuitdelingseremonie is Woensdag 23 Augustus in die Paarl gehou, waartydens die nege wenners en sewe naaswenners aangekondig is en die merkwaardige prestasies van hierdie wonderlike vroue gevier is.
Na aanleiding van die sukses van die eerste Fenomenale vroue van die Kaapse Wynlanddistrik-pryse verlede jaar, het die KWDM, in samewerking met die Historium Trust en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), weer eens aan 16 fenomenale vroue van die gemeenskap hulde gebring.
Denise Stubbs, wenner van die afdeling: Fenomenale vrou in die landbou, van Pniël, sê: “Om deur kollegas in landbou benoem te word, is ’n riem onder die hart. Dit versterk my ??selfvertroue en bied ’n belangrike geleentheid om die profiel van vroue te verhoog en ons veld gelyk te speel. Dit motiveer en bou weer energie.”
Sy sê hierdie toekenning is ’n “fenomenale” mylpaal en eer in haar lewe en sy dra die toekenning op aan alle vroue wat hard werk in landbou.
Die wenner vir die Fenomenale vrou in die NRO-/GOW-sektor, Zenani Mithi van Khayamandi, sê hierdie toekenning is ’n weerspieëling van die werk wat hulle vir hul onmiddellike gemeenskap, Khayamandi, gedoen het. “Aangesien passie geen perke ken nie, kan niks wat ons met passie doen, ooit tevergeefs eindig nie. Om ons gemeenskap met ’n onwrikbare oortuiging te dien, dra altyd vrugte en inspireer altyd hoop en broodnodige vooruitgang,” voeg sy by.
Die Vlottenburg- inwoner Jesika Jones het met die toekenning vir die Fenomenale vrou in die afdeling Vroeë-kinderontwikkeling weggestap.
Jones, wat al langer as 15 jaar in dié sektor werk, sê die erkenning beteken dat iemand dit wat sy doen, raaksien. “Om erkenning te kry vir die tyd en die opofferings wat jy maak om seker te maak elke kind kry die ontwikkeling wat hulle nodig het, is baie lekker.
“Dit beteken baie vir my. Dit laat jou goed voel en voel jy beteken iets vir jou gemeenskap,” voeg sy by.
Janine Myburgh van Pniël het die toekenning vir Fenomenale vrou in bestuur ontvang vir haar betrokkenheid by die Pniël-erfenis- en kultuurtrust (PEKT). Sy sê die toekenning was heeltemal onverwags.
“Ek het aanvanklik nie geweet in watter afdeling ek benoem is nie, dus was die prys ’n groot verrassing. Ek voel regtig baie geëerd. Om selfs net benoem te word, is reeds ’n groot voorreg.”
Myburgh vertel sy het gedink sy is in die NRO-afdeling benoem, en toe die NRO-toekennings klaar was, aangeneem dis verby. “Toe die wenner in die bestuur-afdeling aangekondig is, was ek verstom om my naam te hoor.
“Dit beteken vir my baie omdat ek baie insit vir die PKET. Ek doen dit nie vir die erkenning nie, maar vir die liefde vir ons erfenis en kultuur in Pniël. Maar dis tog lekker om erkenning te kry; dit gee jou moed om voort te gaan met wat jy doen,” voeg sy by.
Die Fenomenale vrou van passie-toekenning het aan die Cloetesville-inwoner en gemeenskapsaktivis Valerie Fernandez gegaan.
“Die erkenning beteken baie vir my; dit is iets waarvoor ek jare gewag het. Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit het my op die ‘map’ gesit. Selfs politieke organisasies nader my nou om hul vroue- forums te lei. “Ek is baie trots op die toekenning, want dit wys dat jou harde werk wat jy insit vir jou gemeenskap nie ongesiens verbygaan nie.”
Nog twee Stellenbossers was onder die vroue wat eervolle vermelding ontvang het. Nina Schumann van Stellenbosch was die naaswenner in die Fenomenale vrou in bestuur-afdeling en Sienna Charles van Kylemore is as naaswenner in die afdeling Fenomenale vrou in die NRO-/GOW-sektor aangewys.
Die uitvoerende burgemeester, dr. Elna von Schlicht, het in haar hooftoespraak gesê: “Dis vir my ’n ongelooflike plesier om ons fenomenale vroue van die Kaapse Wynlanddistrik-wenners asook die uitstaande naaswenners hartlik geluk te wens. U merkwaardige prestasies en bydraes het ons gemeenskap opgehelder en ons almal geïnspireer om beter te doen. Hierdie toekenning is nie alleen ’n erkenning van u individuele suksesse nie, maar plaas ook klem op die kollektiewe krag van vroue wat aanhou om hindernisse af te breek en te herdefinieer wat in ons gemeenskappe moontlik is.
“U verhale dien as ’n baken van hoop en bemagtiging vir toekomstige geslagte, en herinner ons dat daar geen perke is aan wat ons kan bereik nie.”
“Ons bring ere aan u en u prestasies, en mag u aanhou om helder te skyn en diegene rondom u te inspireer. U reis getuig van hoe fenomenaal u is.”
Die versoek om benoemings het in Junie geopen en die publiek het die geleentheid gehad om die onbesonge heldinne te benoem wat inspirerende werk onder gemeenskappe in die Kaapse Wynland verrig.
Die beoordelingsproses is in Julie afgehandel deur ’n paneel van drie vroue wat in eie reg fenomenaal is – Christynn Jacobs, ’n gekwalifiseerde voedseltegnoloog en die mede-eienaar van Jacob’s Jam Company in Ceres; Heidi Erdmann, ’n onafhanklike kurator en kunshistorikus; en Anetta Mangxaba, die direkteur /eienaar/uitgewer van Dizindaba Media (Edms.) Bpk. Hierdie beoordelaars het die moeilike taak gehad om die wenners en naaswenners uit meer as 60 oortuigende benoemings te bepaal.
“Nasionale Vrouedag in Suid-Afrika word hoog geag en dien as ’n herinnering aan die groot bydrae van vroue in Suid-Afrika en is terselfdertyd ’n geleentheid om opnuut te besin oor die regte van vroue. Die rol van vroue in die samelewing is van kardinale belang. Hulle lewer merkwaardige bydraes tot gemeenskappe, families en die samelewing in sy geheel,” het Michael Jonas, direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, in sy openingstoespraak gesê.
“Vroue is die ruggraat van gesinne en gemeenskappe. Dit is waarom dit vir ons belangrik is om vroue in ons gemeenskappe op hierdie skaal op te hef en te vier. Baie geluk aan al die wenners en naaswenners.”
Die prysuitdeling-seremonie, wat gelei is deur die TV-aanbieder Heinrich Wyngaard – tans bekend vir die aanbieding van die gewilde Klop!-program op kykNET – is bygewoon deur wenners en naaswenners, ook die mense wat hulle benoem het, lede van die vennoot-organisasies en spesiale gaste.
Die wenners en naaswenners het geskenke van die KWDM en vennote, die Afrikaanse Taalmuseum en -monument en die Historium Trust asook van Jacob’s Jam en Ou Mutual ontvang.