“Laat hierdie jongmense toe om ons tegnologie te leer; laat hulle ons wys hoe,” was die woorde van Helena von Schlicht, die uitvoerende burgemeester van die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit (KWDM), in haar toespraak by die jaarlikse seremonie vir toppresteerders wat Donderdag 10 Januarie in Stellenbosch gehou is.
Die byeenkoms vier die topmatrikulant by elke skool in die KWDM en word jaarliks gehou ter erkenning van die harde werk en toewyding van nie slegs die topstudente nie, maar ook dié van hul opvoeders en ouers.
Dr. Brian Wilson, hoof: kurrikulum by die Wes-Kaapse Onderwysdepartement in die Kaapse Wynland, het gesê: “Sukses bestaan uit meer as om net hard te leer op skool. Leerders het ook steun en aanmoediging nodig, en hulle ontvang dit van hul ouers en opvoeders.” Hy het bygevoeg dat die Kaapse Wynland-distrik die tuiste is van vyf van die top-20-skole in die land en kan daarmee pronk dat die topstudente in rekeningkunde en fisika die Kaapse Wynland hul tuiste noem. “Wat egter bemoedigend is, is dat nie minder nie as vier skole in die distrik geïdentifiseer is as die mees verbeterde skole in die provinsie.”
Die Kaapse Wynland-distrik het 62 openbare en 12 private skole. Die byeenkoms is deur 230 toppresteerders, ouers en skoolhoofde bygewoon. Baie van die leerders sal vanjaar verder studeer, met B Rek, B Admin en IT as van die gewilder keuses.
Rdh (dr.) Von Schlicht het ’n sterk agtergrond in tersiêre onderwys en voordat sy die politieke arena betree het, was sy departementshoof: maatskaplike werk by die Hugenote Kollege. Sy het van die lesse wat die VSA-vloot se sogenaamde SEALS ondergaan, gedeel. “Vloot-SEALS swem uiteraard baie in hul opleiding en die strafste van hierdie sessies is die nagtelike swem. Voordat die studente in die water gaan, vertel die opleiers hulle dat daar haaie in die water is. As jy een teëkom wat jou as ’n middernagfees teiken, moet jy jou man staan – nie bang optree nie; nie benoud wees nie. Wanneer dit naby genoeg is, gee dit ’n skerp, stewige hou op die snoet en dit sal wegswem.”
Von Schlicht het afgesluit deur te sê: “Daar is baie, baie haaie daar buite. Jy sal moet leer om jou man te staan, wys dat jy nie bang is nie en moet nooit paniekerig raak nie. Wees kalm, werk hard en moenie dat die haaie jou oorheers nie!”