Jong aspirant-skrywers van die Dwarsriviervallei sal baat vind by werksessies wat voorverlede Donderdag (28 September) in dié streek van stapel gestuur is.
Die werksessies is deur die Afrikaanse Taal en Kultuurvereniging (ATKV) in samewerking met die Pniël Erfenis- en Kultuurtrust (Pekt) begin en word deur die bekroonde skrywer Anzil Kulsen aangebied. Die sessies mik om leerders van plaaslike skole se skryfvaardighede te verbeter en hul kreatiewe denke en persoonlike skryfstyle te stimuleer. Die deelnemende leerders is deur Afrikaans-onderwysers by die onderskeie skole geïdentifiseer.
Twee werksessies is verlede week aangebied, met 10 leerders elk van Pniël, PC Petersen en Simondium Primêr wat die laerskool-werksessie bygewoon het. Die werksessie by Kylemore Sekondêr is deur 30 leerders van dié skool bygewoon.
Die tema vir die laerskool-sessie was “My rede om te sing of ’n instrument te bespeel”, terwyl die hoërskool-sessie op “Lig en duisternis: wat hou die bedreiging in dat my lig uitgedoof kan word?” gefokus het.
Die kinders kon in Kaaps of in hul eie spreektaal skryf, en hulle is toegelaat om elemente of idees uit hul eie lewe te gebruik om hul stories of gedigte te skryf. “Dit was voorwaar ’n openbaring om te sien hoeveel leerders oor persoonlike ervarings skryf – hetsy negatief of positief,” het Janine Myburgh, voorsitter van Pekt, gesê.
Die werksessies is ’n voorloper vir die Adam Small-fees, wat in Februarie aanstaande jaar in Pniël aangebied word. ’n Tweede werksessie word vir dié maand beplan. Die sessies kulmineer in ’n kompetisie waarin die wenners in elke groep die geleentheid sal kry om hul wen- stories of -gedigte tydens die fees voor te lees.
“Dit is vir die ATKV en Pekt ’n groot voorreg om saam aan hierdie projek te werk en die kinders die geleentheid te bied om hul skryftalent ten toon te stel en te verbeter.
“Ons dank aan al die skole vir hul entoesiasme en samewerking,” het Myburgh afgesluit.