Stellenbossers het Woensdag (14 Junie) heup-diep in die water gestaan toe die Eersterivier weens sterk reënbuie oorstroom het, met talle paaie, brûe en geboue in die munisipale gebied wat gedeeltelik of heeltemal oorstroom het.
Western Cape – #Flooding at Stellenbosch pic.twitter.com/tOviGGm08h
— TrafficSA (@TrafficSA) June 14, 2023
Adv. Gesie van Deventer, uitvoerende burgemeester, het Donderdag gesê: “Ons spanne werk werklik dag en nag om beskadigde infrastruktuur te herstel en puin skoon te maak sodat die lewe weer na normaal kan terugkeer vir ons inwoners.
“Oor die laaste paar dae het ons ongekende reënval in ons streek gesien – wat gelei het tot plaaslike oorstromings in baie gebiede oor ons munisipale gebied heen. Kenners skat dat ons streek in ongeveer 45 jaar nog nie sulke hewige en aanhoudende reënbuie gesien het nie,” het Van Deventer gesê.
Dr. Johan Kruger, ’n inwoner van Rokewoodstraat langs die Eersterivier, sê hy het in die 27 jaar wat hy in Stellenbosch woon nog nooit so iets ervaar nie. “Dit is die eerste keer dat ons dit beleef. Die water het 05:30 afgekom en binne 20 minute het dit reeds omtrent ’n halwe meter gestyg. Ons is net bly ons het dit oorleef,” sê hy.
“Dit het vir sowat ’n uur aangehou en ons kon sien hoe die water voor ons oë styg. My veiligheidsheining en hekke wat hoog gestaan het, is weggespoel.”
Kruger sê wat vir hom vreemd is, is dat dit nie tydens die oorstroming gereën het nie.
“Weens hierdie swaar reënbuie was talle paaie in die munisipale gebied gedeeltelik of heeltemal oorstroom en is gister, 14 Junie gesluit. Die meeste paaie is weer oop en skoonmaakspanne ruim op. Die Franschhoekpas is nou vir verkeer gesluit en motoriste word aangeraai om van alternatiewe roetes gebruik te maak.”
Brûe tussen Pniël en Lanquedoc was ook beskadig, weggespoel of ontoeganklik. “Elektrisiteitstoevoer na die Pniël- en Johannesdal-omgewing is gister weens stormskade onderbreek, maar was gistermiddag ten volle herstel. Daar is nog gebiede in Wemmershoek en De Hollandsche Molen sonder elektrisiteit aangesien die elektrisiteitsinfrastruktuur steeds onder water is en ons elektrisiëns moet wag vir watervlakke om te sak voordat hulle toevoer herstel,” het Van Deventer gesê.
Sy het Donderdagoggend die toegewyde brand- en rampbestuurspanne besoek om hul gereedheid te evalueer en om hulle te bedank vir hul werk om die inwoners veilig te hou. “Ek het ook terreine in Jonkershoek, Idasvallei en gebiede rondom die Eersterivier in die omgewing van Laer Dorpstraat en Aan-de-Wagenweg besoek om te sien hoe ons opruimbedrywighede vaar.”
Mayor Gesie van Deventer visited our Fire and Disaster Centre to assess their readiness and thank them for their hard work in keeping communities safe. pic.twitter.com/FgBb151mP7
— Stellenbosch Municipality (@StellMun) June 15, 2023
Inwoners kan die volgende doen om hul eiendomme te beskerm:
• Maak seker dat alle geute skoon is.
• Maak seker dat aflooppype skoon is en dat water vrylik kan vloei.
• Maak seker dat alle dreine oop is sodat water kan ingaan.
• Maak seker dat daar geen items buite jou eiendom is wat die vloei van water kan belemmer nie, soos buitemeubels.
• Gaan jou dak na vir lekkasies en verwyder enige rommel soos blare of takke.
• Stel die munisipaliteit onmiddellik in kennis indien ’n openbare drein- of stormwaterstelsel in jou area verstop lyk.
“Ons stormwaterstelsels word op ’n gereelde basis skoongemaak, veral gedurende hierdie tyd van die jaar, maar die realiteit is dat geen stelsel ontwerp is om so ’n groot volume water in so ’n kort tyd te hanteer nie,” voeg Van Deventer by.
Die Wemmershoekdam is vol en water word baie stadig uit die dam vrygelaat in afwagting van nog reën.
“Wees asseblief ekstra versigtig wanneer jy op die paaie is. Dit is raadsaam om tuis te bly indien moontlik. Daar is nog baie reën in die voorspelling. Wees asseblief versigtig.”
Die Wes-Kaapse onderwysdepartement het intussen gesê vyf skole in Stellenbosch, Pniël, Muldersvlei en Wemmershoek is deur die swaar reën geraak.
“Die skole word deur oorstromings in die omgewing rondom die skole geraak, wat die paaie ontoeganklik maak. Die elektrisiteitstoevoer na twee skole is gister geraak,” het Millicent Merton, ’n woordvoerder Donderdag gesê.
“Nooddienste is gereed om die geaffekteerde gebiede by te staan.”
’n Gesamentlike noodoperasiesentrum (JOC) is in die vroeë oggendure van Woensdag, 14 Junie by die munisipale beheerkamer gestig om alle versoeke om bystand te hanteer. Deur die JOC word noodlenigingspogings vanuit ’n sentrale plek gekoördineer. Kontak die munisipale beheerkamer om vloedverwante skade aan te meld of om bystand te versoek: 021 808 8999 of stuur ’n WhatsApp na 079 622 4722.