“Ek het gedink die hele boom gaan op ons neerstort.”
Só verduidelik Yvette Hadie van Idasvallei, wat een van vele inwoners is wat skade gely het weens die afgelope naweek se stormweer.
Hadie en haar gesin was almal in die bed toe ’n boom in Botsmanskopweg Sondagoggend op die huis val. Sy sê werkers van die Stellenbosch-munisipaliteit het intussen ’n seil gebring wat haar 15-jarige seun en sy vriende oor die huis gespan het.
Hadie, haar man, drie kinders en twee kleinkinders is gelukkig almal ongedeerd. Die gesin het sedertdien almal saam in die sitkamer geslaap, maar Hadie sê Dinsdagnag was die eerste keer dat sy weer deur die nag kon slaap.
Bome, heinings en allerhande naamborde het alles in die slag gebly weens wind van tot 330 km/h. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het reeds Vrydag ’n weerwaak van 9 (uit 10) uitgereik en inwoners in die Wynlande, die Overberg en Helderberg gemaan om vir erge weerstoestande gereed te maak.
’n Inwoner, Tamzyn Alexander, se dogter (10) is hospitaal toe gehaas nadat sy deur ’n dakbalk getref is. Sy is sedertdien uit die hospitaal ontslaan en sterk tuis aan. Alexander hou haar dogter fyn dop en sê sy het steeds seerplekke en ’n hoofpyn. “Ek hou haar net rustig sodat sy nie enige terugslae ervaar nie,” verduidelik dié ma.
In Die Boord het ’n inwoner ook na sy vierpoot gesoek nadat die labrador weggeraak het omdat die woning se hek omgewaai het. Die hond is gelukkig veilig teruggevind.
“Die stormskade oor die munisipaliteit heen is ernstig. Ons het te make met talle brande, bome wat omgeval het, elektrisiteitsonderbrekings en dakke wat afgewaai het,” het die plaaslike burgemeester, Gesie van Deventer, Saterdag bevestig.
Sedertdien is die groot skoonmaak aan die gang.
By plaaslike skole soos die Laerskool Eikestad en die Rynse Hoër Meisieskool is heinings platgetrek en losstaande pawiljoene en tennisnette is weens die stormsterk wind rondgewaai. Gegewe die skade aan skole moes leerders Maandag vir eers by die huis bly. Volgens die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) is 406 skole en sowat 270 000 leerders deur die skade geraak. Skole in die Wynlande is gister (Woensdag) heropen.
Plaaslike treindienste, wat verlede maand vir die eerste keer in vier jaar weer in bedryf was, is vir eers gestaak weens herstelwerk wat voltooi moes word. Dele van die munisipale gebied was teen Dinsdag ook steeds kragloos met Eskom wat herstelwerk bevestig het. Inwoners van Franschhoek het ook gekla omdat hulle sedert Sondag sonder elektrisiteit was.
Stuart Grobbelaar, ’n woordvoerder van die Stellenbosch-munisipaliteit, het Dinsdag gesê Eskom-verbruikers se klagtes is na die provinsiale regering gestuur vir ingryping. “Alle beskadigde munisipale elektriese infrastruktuur is herstel en alle toevoer aan munisipale kliënte is herstel. Eskom se infrastruktuur in verskeie gebiede oor die provinsie heen het egter aansienlike skade gely en gevolglik staar Eskom vertragings in die gesig met die herstel van kragtoevoer.
“Ons erken baie Eskom-kliënte binne die munisipale gebied ervaar steeds kragonderbrekings, en die munisipaliteit is in gesprek met Eskom om hierdie kwessie op te los. Hierdie gebiede sluit dele van Jamestown, Kylemore, Lanquedoc, Vlottenburg, Klapmuts, Franschhoek, Raithby en Stellenbosch-plase in,” het hy verduidelik.
Intussen word inwoners gemaan om steeds versigtig te wees naby beskadigde bome terwyl opruimingswerk uitgevoer word.