Veronique Jephtas het op die verhoog van Hoër Meisieskool Bloemhof in My kroon se krank geskitter. Die bekroonde teaterstuk is deur Jephtas en Lynthia Julius geskryf, met Tinarie van Wyk Loots as regisseur.Foto: Jeremeo Le Cordeur
Die nimlike Cintaine Schutte en Chrystal-Donna Roberts was deel van die rolverdeling wat met Tuis, ek’s liefie by Hoër Meisieskool Bloemhof gehore vermaak het.Foto: Nardus Engelbrecht
Dr. Marlene le Roux, uitvoerende bestuurder van die Kunstekaap, was in ’n gesellige bui tydens die gewilde US Toyota Woordfees Langtafel wat Vrydag 6 Oktober onder die eikebome tussen die ou, pragtige geboue in Ryneveld-straat gehou is. Die geleentheid is die amptelike afskop van die kultuurfees.Foto: Nanette Evenhuis
Gaste by die US Toyota Woordfees Langtafel is met goeie musiek vermaak.Foto: Nanette Evenhuis
’n Groep vriende in ’n joviale bui tydens die Langtafel-geleentheid. Die jaarlikse instelling sluit in fees kos deur Bertus Basson en die topdrie spanne van Kokkedoor Vuur en Vlam, gesellige gesprekke en die klink van glase, asook topgehalte vermaak.Foto: Nanette Evenhuis
Die televisieaanbieder Marciel Hopkins voer ’n onderhoud tydens die Langtafel-geleentheid.Foto: Nanette Evenhuis
Die bekroonde US-koor, onder leiding van sy dirigent André van der Merwe, het gehore by die Endlersaal behoorlik bekoor. Die koor se laaste vertoning by vanjaar se fees vind vandag (Vrydag 13 Oktober) om 13:00 by die Endlersaal plaas.Foto: Rikus Terblanche
Rina Bester (regs) is Sondag 8 Oktober tydens die bekendstelling van die agtste US Woordfeeskortverhaalbundel in die Hofmeyr-saal, as algehele wenner van die 2023 Woordfeeskortverhaalkompetisie aangekondig. Sy wen R30 000 met die komplimente van EasyEquities vir haar storie Legende van die Suameer. Elke ander skrywer wat in dié bundel opgeneem word, ontvang prysgeld van R5 000. Saam met Bester (van links) staan Bernard Odendaal (voorsitter van PEN Afrikaans) en Carel Nolte (bemarkingshoof van EasyEquities).Foto: Henk Oets
Die gehoor het lekker by die Oude Libertas-amfiteater gejol toe die gewilde Afrikaanse rymkletser Early B (foto), Jack Parow, Kurt Darren, Loki Rothman, The Blake Hellaby Quartet en Lea Venga tydens die jaarlikse Hip-Hop Bop & Pop-konsert opgetree het.Foto: Johan du Toit
Die akteur Dean John Smith en ander het op die verhoog van Rhenish Girls’ High School met Die Francois Toerien show geskitter.Foto: Henk Oets
Carlo Daniels was in die magiese teaterstuk Droomkraan-kronieke by Rhenish Girls’ High School te sien. Die produksie is geïnspireer deur Oudtshoorniete se herinneringe aan hulle kinderdae en sluit fisieke teater, sang, dans en skadupoppespel in.Foto: Jeremeo Le Cordeur
Voces Cordis Elemente, onder leiding van André van der Merwe, het die gehoor by die Endlersaal behoorlik aan hulle lippe laat hang. Gregoriaanse cantus van wind, vuur en aardbewegings het gesorg vir hemelse harmonieë.Foto: Henk Oets
Jazzart-dansteater, die oudste kontemporêre dansopleiding en -uitvoerende geselskap in Suid-Afrika, vier vanjaar 50 jaar van dans. Jazzart bring produksies na die verhoog wat die geselskap se kleurryke geskiedenis vier en temas soos die verlede, aanvaarding en herskepping ondersoek. 50 Years of Jazz Art was op die verhoog by Hoër Meisieskool Bloemhof.Foto: Pierre Rommelaere
Die Toyota US Woordfees het op die aand van Vrydag 6 Oktober met die Langtafel onder die eike van Ryneveldstraat afgeskop en is steeds in volle swang.
Die feesdirekteur Saartjie Botha is baie gelukkig met die verloop van sake tot dusver: “Die atmosfeer in die dorp is heerlik en die gehalte van die aanbiedings baie goed. Ons het voor die begin van die fees reeds meer kaartjies verkoop as vir die hele 2022-fees, wat ons vanweë die pandemie inderhaas moes organiseer. Gewoonlik verdubbel ons gedurende die fees die kaartjies wat vooraf verkoop is, en ek hou duime vas dat dit weer die geval sal wees te midde van moeilike ekonomiese omstandighede.”
En dis nog nie te laat om by die feestelikheid aan te sluit nie. Die laaste naweek bied ’n groot verskeidenheid vir almal van groot tot klein en oud tot jonk.
Vir kinders en hul ouers en grootouers is daar Braam en die engel – Nico Scheepers se verwerking van dié geliefde kinderboek met Joanie Combrink, De Klerk Oelofse en Rehane Abrahams in die rolverdeling.
Daar is ook ’n laaste kans om Christiaan Olwagen se veelbekroonde drama Die moeder met Sandra Prinsloo in die hoofrol te sien.
By die Van der Stel-sportterrein is daar twee groot buitelugkonserte: Uit volle Bosch (met Van Der Aven, Zaan Sonnekus, Gian Groen, Jan Blohm, Die Heuwels Fantasties) en Jol & Jive – ’n viering van die WOW-projek se 20ste verjaardag met The Temple Boys, Tribal Echo, Early B, Mango Groove en Dr Victor & The Rasta Rebels.
Liefhebbers van klassieke musiek kan Sondagaand (15 Oktober) die fees op ’n hoë noot afsluit met Beethoven String Quartets: The Beginning and the End met die Amici-strykkwartet, wat wyd beskou word as een van die beste kamermusiek-ensembles in die land.
Só kan jy spaar:
Met die SPAAR BAR voor die Erfurthuis in Ryneveld-straat kry jy halfpryskaartjies op alle vertonings binne die volgende vier ure.
Die SPAAR BAR is oop tot Sondag 15 Oktober, daagliks tussen 09:00 en 16:00.
Hier kan jy halfpryskaartjies koop vir enige aanbieding op die feesprogram wat binne die volgende vier ure plaasvind. Byvoorbeeld: As jy 09:00 by die SPAAR BAR is, kan jy alle vertonings tot en met 13:00 halfprys koop, as jy 10:00 opdaag is alle vertonings tot en met 14:00 halfprys.
Dit sluit egter leefstylaanbiedings waar kos en drank bedien word uit. In die laaste uur wat die SPAAR BAR oop is, van 15:00 tot 16:00, is alle kaartjies vir die res van daardie dag halfprys.
Jy kan ook hier ’n borrel bars en pryse wen van Monarch Coffee Cartel, Pizza E Vino, Stellenbosch Square en Stellenbosch-wynroetes.