Twee Stellenbosse rugbyspanne van die Kylemore- en Pniël Villagers-rugbyklubs is van die 16 spanne wat Saterdag (16 November) in die kwarteindstryd van die Westelike Provinsie-rugbyunie se Score 7’s-toernooi op City Park in aksie gaan wees.
Die eerste deel van die toernooi is op Brookside in Claremont gehou, voordat dit na City Park in Athlone verskuif is.
Kylemore is onoorwonne ná ses wedstryde en is die voorloper op die punteleer in Groep C, terwyl Pniël Villagers die tweede plek in Groep B beklee.
Van die groot klubs wat die afgelope twee weke pak gekry het, sluit in Hamiltons, Unimil en St George’s, wat elk twee wedstryde verloor het, terwyl Villagers, Valsbaai en Tygerberg net een nederlaag gely het.
Saterdag sal die spanne in aksie wees en opwindende stryde word verwag voordat die spanne vir die halfeindstryd op Saterdag 23 November beslis word.
Altesame 35 spanne het aan die toernooi deelgeneem en die laaste 16 het tot die kwarteindstryd deurgedring. Die spanne is in vyf groepe verdeel met sewe spanne elk, en die loting van elke span het bepaal waar jy in vanjaar se klubkompetisie van Superliga A tot die streekskompetisie van die WP geëindig het.
Die voorlopers in elk van die groepe is: Hands & Heart (Groep A); NTK (Groep B); Atlantis (Groep C); Kylemore (Groep D); Valsbaai (Groep E).
Kylemore word gebrei deur Ryan Solomons en die afgelope Saterdag het St George’s (12-5), Tygerberg (17-5) en Elsiesrivier (27-5) die knie voor dié span van die Dwarsriviervallei gebuig.
Pniël Villagers word deur Charles Stubbs en Hendrick Muller afgerig.
Die 16 spanne wat Saterdag die kaf van die koring gaan skei om te kwalifiseer vir die halfeindstryde, is Hands & Heart, Young Peoples, Hamiltons, NTK, Pniël Villagers, Unimil, Atlantis, Villagers, Gardens, Kylemore, Tygerberg, St George’s, Macassar, Valsbaai, Brackenfell en Fisantekraal.
- Die loting vir Saterdag se kwarteindstryde: Hands & Heart t. Fisantekraal; NTK t. Brackenfell; Atlantis t. St. George’s; Kylemore t. Gardens; Valsbaai t. Unimil; Macassar t. Hamiltons; Tygerberg t. Young Peoples; en Villagers t. Pniël Villagers.