‘n Eeu van geloof, volharding en gemeenskapsdiens word vanjaar deur die St. Peter’s African Methodist Episcopal-kerk (AME) in Kylemore gevier.

Die plaaslike AME-kerk is in 1925 gestig toe broer Johannes Messiah die leiding geneem het, met eerw. F.J. Williams wat ook ‘n belangrike rol in die totstandkoming van die gemeente gespeel het.

Die St. Peter's gemeente het met 'n ryk geskiedenis.
Die St. Peter’s gemeente het met ‘n ryk geskiedenis.

Ná broer Johannes se afsterwe in 1927 het sy broer, Christiaan, die leiding oorgeneem.

Kylemore se AME-kerk staan al dekades lank in Swartstraat, maar die gemeente het destyds in Klipstraat vir Godsdiens bymekaar gekom. Hier het Petrus Fortuin sy eiendom vir die gemeente beskikbaar gestel voordat die gemeente tussen verskeie persele geskuif het.

Die erf waar die kerk vandag steeds staan, is in 1947 verkry.

Die gemeente het dieselfde jaar sy eerste amptelike leier gekry en eerw. P.J. Messiah was aan die stuur van die kerk.

Broer Saul Januarie het saam met dié leraar vir dekades lank as ‘n betroubare leier en steunpilaar van die gemeente gedien.

Dit het 22 jaar geneem om die kerkgebou tot stand te bring en dit was op 1 Februarie 1969 ‘n blye dag vir die gemeenskap toe die kerkgebou met feestlike viering ingewy is.

Vandag is St. Peter’s steeds ‘n aktiewe en dinamiese geloofsgemeenskap in Kylemore.

Die gemeente word geestelik gelei deur die huidige leraar, eerw. Keenan Sidwyll de Wee. Die huidige leiers is in 2023 op die Bolandse jaarlikse konferensie aangestel.

Huidige leraarspaar Eerw. Keenan en Renay de Wee.
Huidige leraarspaar Eerw. Keenan en Renay de Wee.

Eerw. De Wee en die gemeente werk om die kerk uit te brei en om die geskiedenis van gemeenskapsbetrokkenheid voort te sit. Die gemeente het tans 64 lidmate wat deel is van die verskeie organisasies verbonde aan die kerk, soos die vrouesending-

vereniging, die leke-organisasie en die Christen-onderwysdepartement.

Die gemeente se gemeenskaps- werk behels nie net geestelike bystand nie, maar sluit ook ander hulp in. Gesinne wat dit die nodigste het, word maandeliks met kospakkies gehelp om verligting te bring.

AME-Kylemore het oor die dekades verskeie leraars opgelewer, onder wie eerw. Johan Philander en eerw. Joseph Williams.

Die kerk het uitdagings en donker dae gehad, maar danksy die onuitputlike krag van God is die gemeente steeds staande en ‘n baken van hoop vir die gemeenskap van Kylemore.

Die kerk se geskiedenis getuig van baie mylpale en die toewyding van lidmate. Die bekendste name sluit in broer Saul Januarie, eerw. P.J. Daniels en ander broers en susters, soos Elizabeth Faroo, Sarah Phillips en Mina Terblanche, wat almal ‘n groot bydrae tot die voortbestaan van die kerk gelewer het. Verskeie bedieningsgroepe en dienste is deur die dekades gevestig en het die kerk se werk lewend gehou.

Die gemeente se vele prestasies en toekennings spreek tot die musiek- en sangtalente in die plaaslike gemeenskap.

Feesvierings vir die 100ste bestaansjaar het reeds in Julie met die eeufeesgedenkdiens begin, wat op 27 Julie gehou is. Dié diens het hulde gebring aan afgestorwe lidmate en geestelike leiers wat deel van die kerk se geskiedenis was. In Augustus is ‘n eeufees-tuiskomsdiens gehou waar huidige en voormalige lidmate saamgekom het om die ryk erfenis van St. Peter’s te vier.

Hierdie Saterdag (27 September) vind ‘n eeufees-gala-ete om 18:00 in die VGK Kylemore-kerksaal plaas. Sondag (28 September) word ‘n spesiale diens gehou – ‘n hoogtepunt van die feesvieringe wanneer die senior biskop van die AME-kerk, biskop Wilfred Jacobus Messiah, ‘n boorling van Kylemore, om 15:00 die feesprediker sal wees.

Kom deel in die St. Peter’s-gemeente se feesviering en danksegging hierdie naweek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article