Die 2024-matriekklas van die Hoërskool Kylemore het Maandag ’n inspirerende praatjie deur Melissa Müller (middel), die land se topmatrikulant vir 2023, geniet. By haar staan Lisakhanya Matshi (VRL-voorsitter), Amanda Maarman (onderwyser), haar ma, Lucille Müller, en Tertia Jefthas (waarnemende hoof).


Die 2024-matriekklas van die Hoërskool Kylemore is reeds hard aan die werk om die Nasionale Seniorsertifikaat (NSS) -uitslae van dié skool se klas van 2023 na te volg en verbeter.

Dié skool pronk met ’n 94,5%-slaagsyfer in verlede jaar se NSS-eksamen, ’n 0,6%-afname van die 95,1%-slaagsyfer wat die skool in 2022 bereik het.

Tertia Jefthas, die waarnemende hoof, skryf die skool se uitstekende uitslae toe aan goeie stelsels en beplanning wat vroeër jare deur die voormalige skoolhoof Carin Venter ingestel is.

“In die eerste plek – God seën hierdie skool. Hy laat die planne werk. Tweedens is die uitslae die uitkoms van bouwerk en beplanning oor die afgelope jare,” sê Jefthas. “Ons is ook geseënd met goed gekwalifiseerde onderwysers wat nie skroom om die ekstra myl vir die leerders te stap nie.”

Die skool se topvyf kandidate vir 2023 is Damian Abrahams (eerste), Zurial Orson (tweede), Lezandre Williams (derde), Darryn Mentoor (vierde) en Herschelle Daniels en Reqeal Oliver (albei vyfde).

Die dorp se hoërskool pronk ook met sewe vakonderskeidings: Damian Abrahams (81% vir Engels en 84% vir lewensoriëntering); Teqeal Oliver (81% vir lewensoriëntering); Zurial Orsen 83% vir Engels; Zaiden Japhta (81% vir lewensoriëntering) en Helaine Snyman (90% vir lewensoriëntering en 80% vir toerisme).

Jefthas meen die Kylemore-leerders het goeie dissipline en is toegewyd om sukses deur harde werk te behaal. “Die skool en sy leerders geniet ook ’n sterk en goeie ondersteuningstelsel, wat onderwysers, ouers en die breër gemeenskap insluit.

“Daar is ook ’n mentorskap vir leerders, waar onderwysers leerders reeds in gr. 8 by die hand vat en mentor,” verduidelik sy.

“Ons is ook trots op die kommunikasie en samewerking tussen die skool en ouers. Kwessies wat die kop uitsteek, word danksy hierdie samewerking gou in die kiem gesmoor. Al hierdie komponente het ’n invloed op die goeie slaagsyfer vir 2023 gehad.”

Die skool het ook, in vennootskap met die provinsiale onderwysdepartement, elke tweede Saterdag ekstra klasse deur middel van die departement se Just In Time-program aangebied. In dié klasse kon leerders ekstra aandag skenk aan vakke waarin hulle sukkel.

Met die oog op vanjaar se NSS-eksamen het die skoolbestuur en onderwysers reeds vroeg met beplanning begin om die suksesvolle strategie te verfyn en meer aandag op dit wat ontbreek, te plaas.

Dit het juis vroeg dié week begin met ’n spesiale besoeker wat die gr. 12-leerders op ’n byeenkoms toegespreek het.

Die Stellenbosser en land se topmatrikulant vir 2023, Melissa Müller, het Maandagoggend (29 Januarie) spesiaal ’n draai by die skool gemaak om die matrikulante te inspireer en van haar leerwenke met die gr. 12-leerders te deel.

“Ons gaan ons bande en netwerk met die breër gemeenskap versterk, soos die Bertha Foundation in Lanquedoc, wat ’n lokaal vir leerders smiddae vir tuiswerk beskikbaar stel, en Simondium Primêr, wie se skoolhoof smiddae self agterbly sodat ons leerders by die skool tuiswerk, hersiening en leerwerk by die skool kan doen,” sê Jefthas.

“Ons beplan ook om baie meer op lees met begrip te fokus, want ons kom agter dat die leerders nie met begrip lees wanneer hulle vraestelle beantwoord nie. Ons hoop om hierdie elemente te gebruik om op die matriekuitslae van 2023 voort te bou en weer aan die begin van 2025 uitstekende uitslae te lewer.”

You need to be Logged In to leave a comment.