P.C. Petersen Primêre Skool in Kylemore het verlede Woensdagaand (15 November) sy top- akademiese presteerders, sportoorwinnings en kulturele prestasies tydens sy jaarlikse prysuitdeling gevier.
Dit was ’n aand vol erkenning aan en blydskap vir die skool se gr. 1- tot gr. 7-leerders, met hul toewyding en harde werk wat vereer is.
Debora Forbes, een van dié skool se alumni, was die gasspreker. Haar toespraak het by almal teenwoordig diep aanklank gevind en haar woorde van bemoediging en wysheid het ’n ekstra laag inspirasie by die reeds besonderse atmosfeer gevoeg.
Die waarderingstoekennings, ter erkenning van individue wat se onbaatsugtige toewyding aansienlik tot die skool se groei bygedra het, het vanjaar die kollig op die drie merkwaardige vroue van die skool se sopkombuis geskyn. Anneline Forbes, Liezel Solomons en Natalie Thys help deur die voeding van die leerders met liefde en oorgawe dat die skool holisties funksioneer.
Die P.C. Petersen dux-leerder vir 2023 is Jamie-Lee van Graan, wat met die gesogte prof. André Keet-wisseltrofee weggestap het. Sy het saam met die trofee ook ’n skryfbehoefte-geskenkbewys ontvang, wat deur Keet geskenk is, sowel as ’n geldprys van haar alma mater Sandy Williams, wat ook ’n geldprys aan elke topvyf- gr. 7-leerder geskenk het.
Die prysuitdeling sou nie moontlik gewees het sonder die ondersteuning van verskeie individue en organisasies nie. Hul bydraes het gehelp tot die sukses van die aand.
Die skoolbestuur het sy innige dank aan Williams, Companjiesdrift, Fiona van Kerwel en die WOW-kantoor, Sweydesign, Keet en G&D Training uitgespreek.